
MBOMBELA – Hoewel gemeenskapslede se senuwees vandeesweek tydens verskeie veldbrande op hol gejaag is, is dit deeglik beplan en onder beheer. Dit vorm deel van ‘n skoonmaakveldtog deur verskeie partye. Lowveld and Escarpment Fire Protection Agency (Lefpa), Working on Fire, rampbestuur, die gemeenskapsforum (GPF), Nelspruit Concerned Citizens, die SAPD en talle sekuriteitsmaatskappye was betrokke.
Tien leeglêers is aangekeer en na die Nelspruitse polisiestasie geneem vir ondervraging, maar is weer vrygelaat. Talle koeëldoppies wat in die veld gelê het, is as gevolg van die hitte afgevuur.
Dit was die eerste van ‘n moontlike 11 fases om die stad te beveilig en misdaadvoorkoming te vergemaklik.
Volgens die bestuurder van Lefpa, mnr. André Scheepers, het fase 1 vlot verloop. Mnr. John Meintjies van Nelspruit GPF sê dat die gebied nou aansienlik skoner is en die kans dat misdadigers so maklik owerhede kon ontwyk, is heelwat minder.
Hy moedig die gemeenskap aan om by veldtogte soos dié betrokke te raak.
