Hard newsNewsNews

Man byna in sop oor krokodil-advertensie

"Ek het gedog dit is net nog 'n dier, en dat ons 'n paar rand kan maak deur dit te verkwansel."

MBOMEBELA – ‘n Plaaslike man het amper lang krokodiltrane gehuil voordat hy uitgevind dat hierdie einste reptiel hom in groot moeilikheid kon laat beland. Hy het met die dier op Facebook gesmous, salig onbewus daarvan dat hy ‘n permit vir dit moet hê.

“Hoor ‘n bietjie of kan ons ‘n paar rand maak,” het ‘n vriend aan mnr. Jacques (Laksman) Slabbert gesê voordat hy onder Nelspruiters geskryf het dat hy ‘n krokodil te koop aanbied. “Ek het ‘n twee-meter krokodil – is daar iemand wat dalk sal belangstel – maak my ‘n ‘offer’ asb. Jy sal hom net self moet kom optel.”

Die inskrywing het onmiddelike reaksie ontlok. “Ons het die krokodil in ‘n dam naby my huis opgemerk.

“Ek het gedog dit is net nog ‘n dier, en dat ons ‘n paar rand kan maak deur dit te verkwansel,” het Slabbert by navraag gesê hy. Hy het wel ‘n aanbod van R2 000 ontvang, maar volgens Slabbert was dit heeltemal te min. Hy het meer gehoop vir iets in die omgewing van R20 000 of R30 000. “Hulle verkoop dan kleintjies vir soveel in Boksburg,” het hy aan Laevelder vertel.

Natuurliefhebbers en selfs beamptes van Mpumalanga Toerisme Parke-Agentskap het hom egter vinnig ingelig dat hulle op sy spoor is en hy ‘n reuseboete in die gesig sou staar, sou hy voortgaan met die transaksie.

“Ons het nié die krokodil gevang nie. Ek ken die natuur nie so goed nie, en toe ek uitvind dat ek in die moeilikheid kan kom het ek dadelik van die idee ontslae geraak. Ek’s nie nou lus vir boetes en al daardie tipe goed nie. Dit was blote marknavorsing.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button