Volkslied maak harte warm by openingsaand
Sandra Jacobs, Innibos se media- en bemarkingsbestuurder, het vertel dat die sing van die volkslied nie noodwendig in reaksie op Hofmeyr se vertoning was nie. "Innibos is 'n nasionale fees en ons kon nie aan 'n beter manier dink om almal sommer van die begin af te verenig nie."

MBOMBELA – Ondanks doemprofete se voorspelling dat hierdie Innibos se bywoningsyfer ‘n knou sou vat, is daar 1 300 meer kaartjies as verlede jaar verkoop.
Feesgangers het reeds van vroeg af deur die feesterrein op Hoërskool Bergvlam se hekke gebeur om nes te skrop vir die aand se Huisgenoot Afskopkonsert. Meer as 13 300 mense was Woensdag op die feesterrein en het kunstenaars, uitstallers, sekuriteitbeamptes en klankspanne ingesluit. Hierdie getal was verlede jaar 12 827.
In kontras met “Die Stem” wat verlede jaar deur Steve Hofmeyr gesing is en groot omstredenheid veroorsaak het, is verrigtinge Woensdagaand afgeskop met die sing van die volkslied. Meeste feesgangers het positief hierop gereageer. “Dit was weer soos met die Rugby Wêreldbeker in 1995 toe Madiba met sy Springboktrui op die veld verskyn het,” het feesganger Jeanné Fuchs gesê. “Ek het hoendervleis gekry en was só trots op daardie oomblik.”
Hans Nel het Fuchs se sentiment gedeel. “Toe die volkslied begin speel, het ek ‘n trotse gevoel gekry. En dit het reg gevoel, sonder ongemak.”
Sandra Jacobs, Innibos se media- en bemarkingsbestuurder, het vertel dat die sing van die volkslied nie noodwendig in reaksie op Hofmeyr se vertoning was nie. “Innibos is ‘n nasionale fees en ons kon nie aan ‘n beter manier dink om almal sommer van die begin af te verenig nie,” het Jacobs gesê.
Toe het die vermaak in alle erns begin. 1st Project se kaalbolyf-dromslaners het talle harte laat bollemakiesie slaan. Die kunstenaars was almal mans, na aanleiding van die team van die aand: “manne met hart”. Die beeldskone Tracey de Lange wat as MC van Bravo! bekend is – was as’t ware ‘n roos tussen al die dorings.
Adam was volgende aan die beurt en hul kragtige liefdeslied, getiteld “Oorlog vir jou maak” het selfs die hardste harte laat vermurwe. Manie het daarna diegene wat snags alleen moet lê en die winter trotseer, met sy diep woorde toegevou.
Met sy unieke styl en algehele perfeksionisme, het Joshua na die Reën weer eens die standaard na die volgende vlak geneem. Hy sing “Voshaarnooi” amper so mooi soos Louis van Rensburg wat die lied oorspronklik geskryf en gesing het.
Daar is min mense wat so gemaklik soos Joe Foster agter ‘n klavier kan inskuif en binne sekondes duisende aanhangers kan meevoer. Elvis se Seun het opnuut bewys dat daar nog groot dinge vir Afrikaanse musiek voorlê. ‘n Ou bekende in die Afrikaanse musiekbedryf is Jak de Priester. Hy het weer bewys dat hy uit en uit ‘n gesinsman is en dat hy net weet hóé om die lagspiere te prikkel.
Hy het onder andere ‘n liedjie gesing wat hy vir sy seun se nooi geskryf het, en dit opgevolg met een oor sy dogter. Daarin het hy dit duidelik gemaak dat jy nie met haar mag skoorsoek nie, want dalk word jy ontman. Maar so vermaaklik as wat hy ook al kan wees, net so intiem kan hy ook raak. Sy snit, “Sally Williams Nougat” het die trane maar vlak laat lê by van die feesgangers.
Die land se bekendste boy-band, NRG gevolg deur ‘n kragtoer deur Ghapi, het die gehoor ‘n tweede asem laat skep. “Ek wil maar net vir die vroue sê dat ons partykeer nie saam met hulle kan leef nie, maar ook nie eintlik sonder hulle nie,” het Ghapi genoem so tussendeur sy ontploffende dromvertoning wat talle ge-Ghapify het.
Dewald Wasserfall het egter met die deur in die huis geval. Hy het in ‘n glaskas op die verhoog te voorskyn gekom. Sy plan was om skielik die glas te breek en dan uit te spring, maar hy het eers met die tweede probeerslag daarin geslaag. En asof dit nie genoeg was nie, het hy byna neergeslaan. Nietemin het hy steeds die gehoor in verwondering gelaat.
“Innibos dink ook aan alles,” het die land se lieflingkunstenaar, Bobby die organiseerders gekomplimenteer, veral omdat selfs die dowes vanjaar die fees kan geniet – “‘n Ware fees met hart”. Met verskeie gunstelinge soos “‘n Vrou wil dit hoor”, het Bobby talle harte gesteel.
Die Heuwels Fantasties het die aand afgesluit en rockers opgewarm vir kuiers hierna in die biertente.
