SABIE – Gewoonlik wanneer die polisie se duik- en reddingseenheid op Witrivier na ‘n toneel ontbied word, verwag hulle om ‘n lyk te herwin. Hulle was egter bevoorreg genoeg om Woensdag iemand in nood lewendig na veiligheid te bring.
Lees ook: Drownings spike over festive time
Wat hierdie reddingspoging nog meer merkwaardig maak, was die feit dat die slagoffer – ‘n vrou – ‘n val van 13 meter in ‘n onwettige mynskag oorleef het.
Me. Maggy Selepe (46) van Kasteel in Bosbokrand is ‘n bosbouer in diens van Tingakati Kontrakteurs. Sy het Woensdagoggend gewerk in Komatiland se plantasies, sowat 30 kilometer uit Witrivier op die pad na Sabie, toe sy in die gat geval het.
“Haar werk behels basies om bome onder skoon te kap. Die betrokke gat was byna heeltemal met takke bedek. Sy het dit nie gesien nie en daarin geval,” het kapt. Pottie Potgieter, bevelvoerder van die duikeenheid, gesê. Gelukkig het ‘n kollega, me. Mildrid Chilwane, dit gesien gebeur en dadelik hulp ontbied.
Lees ook: Remains of missing girl (3) found
Potgieter en sy vrou, kapt. Joey Potgieter, AO André de Lange, AO Danie Theron en sers. Leon Harrington van die honde-eenheid op Middelburg, wat toevallig hier in die Laeveld was, is na die toneel. “Dit het omstreeks 08:50 gebeur – sowat twee kilometer die plantasie in,” het Potgieter gesê. Hulle het die span van ER24 vergesel. Die polisielede het gehelp om paramedici van ER in die gat te laat afsak. “Die gat is sowat 30 meter diep, maar gelukkig het Selepe net 13 meter ver geval. Dit is steeds baie ver,” het Potgieter vertel.
Hulle kon daarin slaag om haar na veiligheid te bring. “Toe sy bo kom was haar bloeddruk uiters laag – 80/50,” het Potgieter bygevoeg. Ernstig beseer, met frakture in beide enkels en een bobeen, het Selepe nogtans vir haar redders geglimlag, dankbaar om weer bo die grond te wees.
Sy is in ‘n stabiele toestand na Mediclinic Nelspruit gebring waar sy behandel word. Me. Liza Beharrie, ‘n woordvoerder van die hospitaal, het by navraag gesê dat sy reeds Woensdag geopereer is. ‘n Vermeende makadamia-dief was egter nie so gelukkig soos Selepe nie. Hy het in die Krokodilrivier verdrink toe hy probeer het om sekuriteitsbeamptes te ontduik.
Potgieter en sy span is Dinsdag na ‘n makadamia-plantasie van HL Hall & Sons in Cairn ontbied. “Volgens inligting wat ons ontvang het, het sekuriteitsbeamptes op vermeende makadamia-diewe in die plantasie afgekom. Hulle het die mans agterna gesit en hulle het deur die Krokodilrivier geswem in ‘n poging om weg te kom. Een van hulle het egter nie die oewer gehaal nie,” het Potgieter vertel.
Hulle het die ysige water trotseer, die man se lyk sowat twee meter onder die oppervlak opgespoor en na bo gebring. Dit is nie bekend of die ander verdagtes aangekeer is nie. HL Hall & Sons het teen druktyd nie op navrae gereageer nie.











