Hard newsNews

Die storie agter dié ring is nice

Dit was 'n goeie ervaring. 'n Goeie begin van die nuwe jaar

MBOMBELA – Nice Mabuza (22) doen haar naam gestand. Sy is regtig nice. Toe ‘n plaaslike vrou hierdie naweek haar verloofring in Pick n Pay verloor het, het sy nie gedink dat haar pleidooie op Facebook en ‘n grootskaalse soektog iets gaan oplewer nie. Danksy Nice, is haar geloof in die mensdom se goedheid egter net sterker.

Lorraine van Niekerk is laat Saterdagmiddag met haar man en twee woelwaters na dié supermark in I’langa Mall. Sy en haar seuntjie, wat hierdie week met gr. 1 begin het, is later na Game toe om daar te kyk vir ‘n blou skooltas en haar man en dogtertjie het in Pick n Pay agtergebly en voortgegaan met hulle inkopies.

Sy sit saans altyd haar ring langs haar horlosie neer en het Saterdagaand yskoud geword toe sy besef sy het nie die ring aan nie. “Ek het dadelik besef ek moes dit in Pick n Pay verloor het,” het sy vertel.

Lorraine het ‘n foto van die ring op Nelspruiters op Facebook geplaas met die woorde: “I know this is an extremely long shot, but I lost my ring in Pick n Pay today, we were there at about 17:00. If you find it or know anyone who found a ring, please return it!”

Sy en haar man is Sondagoggend 09:00 terug na I’langa Mall en het die motorwagte gevra of hulle nie dalk die ring gesien het nie. Hierna is hulle na die sentrumbestuur, Pick n Pay en selfs Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit, maar verniet.

“Almal was baie besorg toe hulle hoor ons soek dié ring en het gehelp soek. Ons het in Pick n Pay se gange rondgekruip en onder die rakke ingeloer. Daar was egter geen teken van dit nie en ek het maar aanvaar dat ek my tweede ring verloor het,” het Lorraine gesê, wat verlede jaar haar 10e huweliksherdenking gevier het.

Haar man was nog destyds besig met sy doktorsgraad en kon nie bekostig om vir Lorraine ‘n verloofring te koop het. Sy het die ring, stuk-stuk, self op eBay gekoop en die edelsteen en metaal aan haar man gegee om te laat set.

“Ek het dit egter óók verloor. ‘n Vriendin het toe hierdie ring vir my ontwerp en gemaak. Die steen is ‘n akwamaryn – my geboortesteen,” het sy vertel en na die ring gewys. Sy weet nie wat dit werd is nie. Die versekering het destyds vir die nuwe ring betaal en Lorraine moet dit nog laat waardeer. Dit het egter groot sentimentele waarde.

‘n Mens kom uit die gesprek met Lorraine agter dat sy ‘n optimis is. Iemand wat altyd die glas as halfvol sien en glo in mense se goedheid. “Ek het maar net gehoop dat, wie ook al die ring het, dit verkoop en die geld vir ‘n goeie doel aanwend.”

Sy het omstreeks 11:00 ‘n oproep van Pick n Pay se bestuurder gekry wat haar ingelig het dat hulle die ring gekry het. “Ek kon dit nie glo nie. Ons is terug soontoe, maar ek het steeds nie gedink dit is werklik my ring wat hulle teruggekry het nie.”

Sy was oorstelp toe sy sien dat dit wél haar ring is. “Ek was verskriklik bly. Die bestuurder het Nice geroep sodat ek haar kon ontmoet.” Lorraine het kort hierna op Facebook laat weet dat sy haar ring terug het. Dié inskrywing het nie minder nie as 381 likes gekry en verskeie mense het kommentaar gelewer.

Lorraine van Niekerk en Nice Mabuza.
Lorraine van Niekerk en Nice Mabuza.

Nice verstaan egter nie waaroor die bohaai gaan nie. Sy het Sondagoggend pakkies in een van die waentjies gepak toe sy dié blink ding daarin opmerk. “Ek het vroeër die oggend gehoor dat my kollegas praat van ‘n ring wat in die winkel verlore geraak het en ek het dit vir my bestuurder gaan gee.” Sy sê sy het nie twee keer gedink of sy die ring moet ingee of nie. Sy het boonop maar die 2de Januarie by Pick n Pay begin werk en was voor dit werkloos.

“Dit was ‘n goeie ervaring. ‘n Goeie begin van die nuwe jaar,” het Lorraine geglimlag. Sy en haar gesin het twee jaar gelede na die stad verhuis. “Ek vind Mbombela se mense baie goed en jy sal ver moet soek om ‘n gemeenskap soos hierdie te kry. Wildvreemde mense het my inskrywing op Facebook gedeel. Die ring is eintlik onbelangrik, maar inwoners het dit belangrik genoeg geag om my te help.”

Hoewel Nice niks terug verwag het nie, het Lorraine haar nogtans met ‘n bottel wyn verras. Heel gepas, was dit ‘n bottel wyn van Flippenice, ‘n wynlandgoed in Tulbagh in die kaap. “Kyk,” wys sy vir Nice en beduie na die etiket op die bottel, “want jy is flippen nice.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button