Drywer se wakker optrede voorkom dat dieseltenker op N4 by Ngodwana brand
'n Drywer wat bewus geraak het van 'n brand aan die agterkant van sy dieseltenker het vanoggend op die N4 naby Ngondwana waarskynlik sy eie en 'n paar ander lewens gered.
NGONDWANA – ‘n Heldedaad op die N4 op pad na Johannesburg naby aan Sappi se Elandsvlei-ingangshek by Ngondwana het ‘n potensiële ramp verhoed toe die drywer van ‘n dieseltenker kop gehou het toe die agterkant van die voertuig by die brandstofkleppe spontaan aan die brand geslaan het.
Kaptein Pieter Smit, bevelvoerder van SAPS Ngondwana, sê dat die drywer die trok en die waentjie van die pad af gestuur het en betyds uit die voertuig kon kom om oproepe te maak om die brand te blus. Hy is nie beseer nie en net geskok.
“Ons weet nie wat die oorsaak kon wees dat die agterkant van die voertuig vlam gevat het nie,” het Smit gesê.
Die brandweerspan van Sappi Ngondwana was vinnig op die toneel gewees om die brandende voertuig te blus en te sorg dat die brand nie verder na die gronde van Sappi daarnaas versprei nie.
Verkeer was meer as twee ure op die pad staande gewees, maar is nou weer aan die vloei.
Mev. Elsabe Coetzee, kommunikasiebeampte van Sappi, sê dat die Sappi-brandspan vinnig op die toneel op die N4 was en sodoende die omgewingsrisiko’s kon assesseer en uitskakel. Die voorval het nie naby die meule of enige aflooppype daarheen gebeur nie.
“Daar was nie enige gevaar vir die meule nie,” het Coetzee bevestig.
Die diesel wat uitgeloop het is reeds skoon gemaak en padoppervlakte beveilig.

