Local newsNews

Versamelaar bewaar erfenis vir nageslag

"My doel is nie soseer om 'n versameling oudhede bymekaar te maak en vreeslik na versamelstukke te soek nie. Ek wil graag stukkies geskiedenis vir die volgende geslagte bewaar en nalaat," vertel Joachim Schulz, 'n Marlothpark-inwoner wat oudhede versamel.

MARLOTHPARK – Geskiedenis is allermins vervelig wanneer ‘n mens dit deur die oë van Joachim Schulz bekyk.

Sy vrou, Annemarie, skerts dat dit soms voel asof hulle in ‘n museum bly. Dit is inderdaad die akkuraatste beskrywing van hulle huis, ‘n klein gebou propvol interessante oudhede.

Van die voordeur af, vang jou oog al die rye militêre hoede, ou telefone en blikkies wat oral uitgestal word.

Joachim se versameling blikkies en papierkoevertjies vol grammafoonnaalde staan al reg op die kombuistafel. Hy het tydens ‘n onlangse byeenkoms van die Guardian Angels met my hieroor gesels en my genooi vir ‘n kuier om sy verskillende versamelings te bekyk. Lees hier van die byeenkoms.

“My doel is nie soseer om ‘n versameling oudhede bymekaar te maak en vreeslik na versamelstukke te soek nie. Ek wil graag stukkies geskiedenis vir die volgende geslagte bewaar en nalaat,” vertel hy my oor ‘n koppie tee.

Ons begin by die grammafoonnaalde. Daar is omtrent 70 van die klein blikkies wat uit die 1920’s tot 60’s dateer. Talle daarvan is Suid-Afrikaans, met ‘n paar Afrikaanses tussen die lot, terwyl ander van Suid-Amerika en Europa afkomstig is.

Blikkies met grammofoonnaalde wat uit die 1920’s tot 1960’s dateer.

“Langspeelplate en die blikkies met naalde begin nou weer populêr word,” vertel Joachim. “Daar is selfs fabrieke wat nou weer oopmaak weens die stygende vraag.”

Joachim en sy vrou geniet dit om vlooi- en boeremarkte in Suid-Afrika en oorsee te besoek en vul so hulle versameling aan.

Hulle stal ook soms van hulle ware by sulke markte uit en geniet die navrae van nuuskierige verbygangers.

Joachim gaan haal daarna ‘n pak langspeelplate. Sy versameling dateer uit ongeveer dieselfde tyd as die blikkies en hy het dit in die sestigerjare al begin bymekaarmaak.

Van die eerstes wat hy wys, is ‘n 1978-plaat van Elvis Presley en The Beatles se eerste, waar Tony Sherridon nog hoofsanger was. Hy beduie hoe die plate se omhulsels advertensies vir spelers van His Master’s Voice bevat en hoe daar later selfs albums gemaak is waarin jy jou versameling kon bêre.

Annemarie en Joachim Schultz by van sy platespelers tydens ‘n onlangse Guardian Angels-byeenkoms.

Tussen sy honderde plate is daar musiek van die Drakensberg-seunskoor, Cliff Richard, Four Jacks and a Jill, Buddy Holly, Mario Lanza en die rolprent, The Sound of Music.

Ons aandag skuif daarna na telefone – die eintlike fokus van Joachim se versameling. Sy oudste telefoon is in 1895 deur LM Ericsson and Co. gemaak.

Daar is ook ‘n telefoon uit ‘n Nazi-bunker, ‘n paar muurtelefone van die Transvaalse Poskantoor met die Engelse landswapen, president CR Swart se Uniegebou-kantoorfoon van 1965 en James Stevenson-Hamilton se Skukuza-kantoorfoon uit die 1950’s. Hy het ook die eerste Siemens- selfoon wat in Suid-Afrika op die mark was en later as ‘n ‘baksteenfoon’ bekend geword het.

‘n Paar van die ou muurtelefone wat Joachim Schulz versamel.

Joachim het meer as ‘n 100 telefone en vertel dat ou fone deesdae ‘n populêre versamelstuk is. “Mense is mal oor die plaaslyn-telefoon. As hulle by ons stalletjie verbyloop, kom gesels hulle eers en deel hulle herinneringe.”

Ons eindig met sy militêre hoofbedekkings wat meestal van Suid-Afrika, Duitsland en Rusland afkomstig is. Hy het pragtige groen gepluimde en spierwit hoede van die Presidentswag, asook helms van die Tweede Wêreldoorlog.

Drie SA hoede uit Joachim Schulz se militêre versameling.

“Behalwe hierdie, versamel ek ook enigiets interessant soos munte, seëls en ou telefoonkaarte,” beduie hy.

Nadat ek ‘n paar foto’s geneem het en groet, oorhandig hy een van die blikkies met grammofoonnaalde aan my. “Sodat jy iets het om jou aan die besoek te herinner,” sê hy met ‘n glimlag.

Die blikkie staan nou op een van my boekrakke in die sitkamer, ‘n stukkie geskiedenis wat definitief nie verlore sal gaan nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button