Kyk uit vir dié top 10 misdaadtendense
Die feestyd is ‘n ideale tyd vir inbrekers om toe te slaan en vanjaar is geen uitsondering nie.

LYDENBURG – Versekeringsmaatskappye het vyf jaar se Desember-inbraakdata ontleed om te identifiseer watter items hoog op misdadigers se inkopielys is, wanneer hulle die meeste toeslaan en watter toegangspunte hulle die gereeldste gebruik om toegang tot wonings te verkry.
Versekeringsmaatskappy Virseker het ook ‘n handige lys saamgestel van verdedigingsmeganismes wat elke Suid-Afrikaanse huishouding behoort te hê.
“Nes baie eerlike Suid-Afrikaners, was dit ook vir misdadigers moeilik tydens die Covid-19 inperkings en baie van hulle sien die feestyd as ‘n uitstekende geleentheid om ‘n oneerlike rand of twee te maak,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker. “Hulle is van nature opportunisties, so wonings wat nie deeglik beveilig is nie word teikens vir inbrekers. Suid-Afrikaners is dit aan hulself verskuldig om ‘n deeglike sekuriteitsoudit te doen en hulself te beskerm sover hulle kan.”
Televisies, klankstelsels, rekenaars en skootrekenaars, selfone en tabletrekenaars, juwele, kraggereedskap, tuingereedskap, speletjieskonsoles, fietse en beddegoed word die meeste gesteel en tydens sowat 77 persent van inbrake word huisinhoud gesteel en die res van die tyd inhoud uit buitegeboue. Toegang word meestal verkry deur vensters, gevolg deur motorhuise, deure, skuifdeure en, in rare gevalle, dakke.
Maandae en Woensdae is die gewildste dae vir inbrake, gevolg deur Dinsdae en Vrydae. Hoewel inbrake enige tyd van die dag of nag plaasvind, is daar meer inbrake in die baie vroeë oggendure tot rondom 9:00 en dan weer tussen 12:00 en 15:00.
Volgens Coetzee is daar verskeie moontlikhede om ekstra sekuriteit tot jou huis te voeg wat elke Suid-Afrikaanse huishouding moet oorweeg:
– ‘n Stewige grensmuur of palisadeheining bied nie net privaatheid nie, maar dien ook as eerste lyn van verdediging.
– Goeie en sterk hekke en motorhuisdeure wat met afstandbeheer oopgemaak kan word. Dis belangrik dat hierdie hekke en deure vinnig oop en toe gemaak kan word om die geleentheidsvenster vir misdadigers so klein as moontlik te hou. Maak ook seker dat hekke nie van hul spore gelig kan word nie en dat hekmotors veilig versteek is en nie toeganklik is nie.
– ‘n Elektriese heining wat ‘n ekstra sekuriteitslaag bied en ook as afskrikmiddel dien. Dis belangrik om dit deur ‘n kenner – en in ooreenstemming met veiligheidsregulasies – te laat installeer. Wees op die uitkyk vir swak punte waar die heining maklik omseil kan word deur op ‘n muur te trap of a nabygeleë boom vir hefkrag te gebruik.
– Sekuriteitstrale (“beams”) wat die gebied rondom jou woning, sowel as binne jou woning, dek – só opgestel dat verskillende sones geaktiveer kan word soos nodig. Dit dien as ‘n vroeë waarskuwingstelsel, sou misdadigers om of deur die eerste lae sekuriteit kom.
– Diefwering en sekuriteitshekke op alle deure – stewig vasgemaak sodat dit nie maklik omseil, gebreek of oopgebuig kan word nie. Sommige ouer huise is veral kwesbaar waar die sweiswerk wat diefwering aan die vensterraam vasmaak nie stewig is nie.
– Klein hondjies in die huis is ‘n hoogs onderskatte sekuriteitsmaatreël, Hulle skerp gehoorsintuig, sig en reuksintuig bied ‘n vroeë waarskuwingstelsel van onskatbare waarde. Dit is slim om jou sekuriteitstelsel aan ‘n goeie gewapende reaksiemaatskappy te koppel en om ook ‘n paniekknoppie aan hierdie stelsel te koppel.
– Kringtelevisiestelsels word toenemend bekostigbaar en bied ‘n maklike manier vir jou om ‘n oog op jou eiendom te hou – selfs oor groot afstande via ‘n slimfoon-toepassing. Sou jy ‘n slagoffer van misdaad word, is dit ook ‘n handige hulpmiddel vir die polisie om misdadigers vas te trek.
Coetzee lig ook die volgende reëls uit vir goeie algemene sekuriteitspraktyk rondom jou huis:
– Kyk uit vir verdagte voertuie of individue, veral wanneer jy by jou huis ingaan, en stel die owerhede in kennis indien nodig. Beweeg vinnig wanneer jy tuiskom of jou huis verlaat.
– Wissel jou daaglikse roetine om dit moeiliker te maak vir misdadigers om te voorspel wanneer jy tuis sal wees. Vermy dit om vir misdadigers ‘n voorsmakie te gee van wat in jou huis is deur leë bokse van nuut-aangekoopte items oop en bloot te laat lê, gordyne wyd oop te los of enige deure, insluitend die motorhuisdeur, oop te los.
– Moenie jou motor- en huissleutels op ‘n plek los waar dit maklik toeganklik is nie – hou dit weggebêre in ‘n veilige plek wat slegs bekend is aan die lede van jou huishouding.
– Behou ‘n gesonde skeptisisme wanneer jy ‘n kontrakteur of permanente werker in jou huis toelaat – maak seker dat jy ‘n goeie agtergrondondersoek doen.
– Stoor die kontakbesonderhede van alle nooddienste op jou foon of skryf dit neer waar almal in die huishouding maklik toegang daartoe het. Maak seker dat almal weet wat om te doen in ‘n noodgeval.
– Stel jou sekuriteitsmaatskappy in kennis wanneer jy vir verlengde tydperke nie tuis sal wees nie. Reël met iemand wat jy vertrou om jou huis gereeld te besoek, jou posstukke uit die posbus te haal, plante water te gee en verskillende ligte aan te skakel om die indruk te skep dat iemand tuis is.
“Sou dit gebeur dat jy ‘n slagoffer van ‘n inbraak word, is dit wys om jou besittings omvattend verseker te hê”, sluit Coetzee af. “Maak seker dat jy jou huisinhoudslys gereeld bywerk en maak dubbeld seker dat items teen hulle huidige vervangingswaarde verseker is,” sê hy.
