Besoek i’langa Mall en gaan bos met Innibos
Maak los die Covid-knoop uit jou feesbolla, want in September is dit Gaan Bos inniMall saam met Innibos Nasionale Kunstefees en i'langa Mall.

MBOMELA – Feestelikhede skop af op Donderdag, 23 September, tot Saterdag, 25 September, en daar is musiekopvoerings, toneelstukke, boekbekendstellings, komedie, kuns en nog allerlei verrassings.
Al die aanbiedings sal streng volgens Covid-19-regulasies wees, dus kan dié wat bos wil gaan nie bekostig om gras onder hulle voete te groei om kaartjies in die hande te kry nie. Sosiale distansiëring, die dra van maskers en die aantal persone per lokaal sal deurlopend toegepas word.
Henri Gouws, die bemarkingsbestuurder van i’langa Mall, sê dié fees-in-die-kleine is onder meer om ná ‘n moeilike jaar ‘n geleentheid te skep om die stad, die Laeveld, die winkelhuurder en kuns en kultuur ‘n hupstoot te gee.
“Die geriewe in die winkelsentrum maak dit moontlik om iets uniek aan te bied, en Innibos gebruik hierdie ‘verhoog’ met opwindende aanbiedings.” Volgens Sandra Jacobs, die media- en bemarkingsbestuurder van Innibos, is dit ‘n groot voorreg om kragte met die span van i’langa te smee om Gaan Bos inniMall aan te bied. “Ons bring as ‘t ware teater, kuns en musiek terug na die markplein. Dit is ‘n riem onder die hart om weer aan kunstenaars ‘n kans te gee om voor ‘n gehoor op te tree, en ons gaan voluit binne die raamwerk wat daar gestel is.”
Van die hoogtepunte op die program is die musiekkonserte elke aand by die piazza en die ingang na die vermaakarena, die entrance@entertainment. Majozi, Ross Learmonth van Prime Circle en Elvis Blue tree by laasgenoemde op. Mense moet sitplekke bespreek by die onderskeie restaurante (Spur, RocoMamas, Mediterranean en Salsa) in dié sentrumvleuel.

By die piazza tree Loki Rothman, Vivid Paradox, Wanda Zonke, Coenie Naudé en Refentse op. Die Korona Kielie-konserte met komedie uit die boonste rakke is nóg ‘n hoogtepunt. Frank Opperman is te sien in Steeds donkie en Dowwe Dolla, wat haar beplande swanesang verlede jaar moes uitstel, kom sê ‘n Laeveldse koebaai. Wynand von Vollenstee is te sien in Geen salf te smeer nie waarin hy ieder en elk se keelvolheid verwoord, en Schalk Bezuidenhout kan gehoor word in Schalk sing sleg.

Toneelliefhebbers wat destyds die Innibos-vertoning van teaterdoyenne Sandra Prinsloo in Oskar en die pienk tannie misgeloop het, moet sorg dat hulle beslis hierdie vertoning bywoon. Lizz Meiring is die gasvrou by ‘n damesoggend. Boekbekendstellings van plaaslike skrywers, sowel as van Marinda Engelbrecht se Marinda kook! en Susan Coetzer se Die uil in die ysbos sal plaasvind, en ‘n kunsuitstalling onder kuratorskap van John-Anthony Boerma sal die winkelsentrum ‘n anderwêreldse atmosfeer gee.

Die volledige program is op innibos.co.za. Alle kaartjies vir die vertonings is by i’langa se sentrumbestuurskantoor by die Mugg & Bean-ingang te koop.







