Geskiedenis is die fondamente waarop dorp gebou is
Die jaarlikse kranslegging om hulde te bring aan die Suid-Afrikaanse burgers wat soveel vir die land opgeoffer het, het weer op Vrydag 15 Oktober plaasgevind.
Die tradisie vind elke jaar by die Burgermonument in die tuine van die NG Moedergemeente plaas.
Die verrigting is hierdie jaar opgedra aan wyle genl. Constand Viljoen en sy vrou, Rustie. Viljoen was die destydse hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag en is verlede jaar op sy plaas buite Ohrigstad oorlede. Hy het dekades die kranslegging in Lydenburg bygewoon.

Michelle Boshoff het hulde gebring aan die pioniere wat uitsonderlike diens aan die dorp gelewer het. Die plaas Rietspruit is onteien deur die heemraad in 1849 vir die aanleg van die dorp. Die plaas het behoort aan Johannes Coetser, Boshoff se voorvader se broer.
Die pioniere was ds. H. J. Neethling, dr. C. Manning, Landdros Jansen, Meester Willem Poen (die eerste onderwyser in Lydenburg), Willie Steyn en Elias de Souza. De Souza was een van die pioniere wat onder meer bygedra het tot die stigting van Hoërskool Lydenburg in 1921.
Boshoff het ook kortliks die verhaal van vyf merkwaardige soldate van die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1901) vertel. Hulle het bekendgestaan as “die vyf swemmers”. Hulle verhaal is een van die mees opspraakwekkendste ontsnappings van boerekrygsgevangenes gedurende die oorlog.

Willie Steyn en vier vriende, Piet Botha, Ernst Hausner en die broers Louw en George Steytler, het op Sondag 13 Januarie 1901 van die Britse magte ontsnap. Hulle is toe gevang en op ‘n skip na Ceylon (vandag Sri Lanka) geplaas.
In die Ceylon-hawe het hulle ‘n merkwaardige ontsnappingspoging van stapel gestuur. Hulle het van die skip afgespring en na ‘n Russiese skip geswem. Daar is hulle soos helde ontvang. Met Russe en Duitsers se hulp het hulle via Europa weer deur Nambië na die Noord-Kaap teruggekeer. Daar het hulle by genl. Manie Maritz aangesluit om verder aan die oorlog deel te neem. Hulle verhaal is volledig opgeteken in C. J. Barnard se Die vyf swemmers: ‘n Ware ontsnappingsverhaal (Tafelberg, 1988).

Kranse is ook deur Hoërskool Lydenburg vir hierdie pioniere gelê. Laerskool Lydenburg het vir die oudstryders wat in konsentrasiekampe tydens die Tweede Vryheidsoorlog oorsee gesterf het, ‘n krans gelê.
Die Lydenburg Akademie vir CVO het ‘n krans ter nagedagtenis aan die duisende vroue en kinders wat in die konsentrasiekampe tydens dié oorlog gesterf het, gelê.
Kol. Ludi Schulze het ook onder meer hulde gebring aan troepe wat tydens die Suid-Afrikaanse Grensoorlog van 1966 tot 1989 gesneuwel het, asook hul families.
Martie Bezuidenhout van AfriForum Lydenburg het ‘n krans vir die boere en hul gesinne wat slagoffers van plaasaanvalle is, gelê.







