Plaaslike okkerneutbedryf is op volle vaart
Die sukses van die plaaslike neutbedryf is niks nuuts nie.
Vir dekades reeds plant boere pekans, macadamias en selfs amandels met sukses in hierdie omgewing.
In 2018 het die Highveld Growers Group tot stand gekom toe ‘n groep boere van Badfontein, Dullstroom, Machadodorp en Oshoek die potensiaal van die okkerneutbedryf spesifiek hier geïdentifiseer het.
Dit was nadat hulle ‘n opedag van Rotondo Walnuts aan die oewer van die Garieprivier, net buite Aliwal-Noord, bygewoon het.

Rotondo Walnuts bedryf ‘n projek van die Industrial Development Corporation, wat voorheen as die Nywerheidsontwikkelingskorporasie bekendgestaan het.
Rotondo het al die plantmateriaal voorsien en die boere ondersteun met tegniese advies.
“Rotondo is reeds etlike jare daarvan bewus dat hierdie omgewing perfek vir okkerneute is. Ons area is gunstig vir okkerneute en ons het ook die regte plantmateriaal. Die Highveld Growers Group het baie navorsing gedoen en is baie opgewonde oor die nuwe vertakking van ons boerderye. Vanweë die gewildheid van okkerneute is daar ‘n konstante navraag na die produk in Europa” het Fanie Smit, die woordvoerder vir die groep, gesê.
Op Woensdag 1 September is hierdie jaar se bestelling van 2 500 boompie-onderstamme en geënte bome in Dullstroom aangekom. Van daar is dit onder die boere versprei.
Die Highveld Growers Group bestaan uit Trevor Cunningham, Christo en Marisa Grobler, Dirk, Dirkie jr. en Melanie Grobler, Thys, Christa en Mathys Prinsloo, Neels Malan, Fanie en Sonet Smit, Koos en Erika Smith, Thinus van der Merwe, Wilmar van Rooyen, Gerhard Venter, Gert Viljoen, Johan en Claire Watson en Johnathan Wersley.
“Die produksie van die neutbedryf het sedert 2001 skerp gegroei in Suid-Afrika. Okkerneute is die tweede grootste neut wat ter wêreld gebruik word. Die aanvraag is groot en die mark is gunstig vir ‘n groter produsentemark vir okkerneute,” het Smit gesê.
Op Vrydag 19 November vind ‘n ope dag by die Dullstroom Epilepsiesentrum plaas.
Belangstellendes kan by die Rotondo-kundiges meer inligting bekom. Navrae met betrekking tot die ope dag kan aan Thys Prinsloo gerig word by mvrprinsloo@vodamail.co.za.

