Local newsNewsNews

Huis vir babas nou werklik

Die Grobbler gesin hou moed na geleentheid uit hul bereik was en word beloon vir hul droom om 'n veilige tehuis vir babas in te rig.

As een deur toegaan sal ‘n ander vir jou oopmaak.

Dit is die oeroue lewensles wat Justin en Ané Grobbler onlangs wéér geleer het nadat ‘n droomhuis wat hulle sou oorneem om ‘n veilige tehuis vir babas in te rig, deur die mat geval het.

“Letterlik ‘n dag voor ons op 11 November in die huis in Columbusstraat sou intrek, het die verhuurders ons in kennis gestel dat die huis nie meer beskikbaar is nie,” vertel Justin.

Justin, Jaimie en Ané Grobbler.

Hy sê dit was ideaal vir die doel waarvoor hulle dit wou gebruik.

“Die huis sou geborg word deur mense van Pretoria. Maar ek moet bely dat ek en Ané van die begin af effe onrustig oor die transaksie gevoel het. Maar ek oordeel niemand nie en het geglo dat die plek beskikbaar sou wees.”

Omstreeks 10:00 op 10 November het die “borg” hom gebel om te sê die huis is nie meer beskikbaar nie.

“Ons was effe geskok en het met baie moeite die eintlike regte eienaar van die huis in Kaapstad opgespoor. Ons moes toe hoor dat hy g’n sout of water van die hele ooreenkoms weet nie!”

LEES OOK: Aandag alle aftreeoorde: Petanque wag by Pumalanga

Soos soveel maal tevore in hulle lewens het hulle die oplossing vir dié krisis ‘n gebedsaak gemaak.

‘n Paar dae later het Ané, wat as ‘n ontvangsdame by ‘n plaaslike tandarts werk, by haar werkgewer gehoor dat hy ‘n vierslaapkamerhuis in Alingsingel gekoop het.

“Hy het gesê hy gaan nie eers die huis adverteer om uit te verhuur nie, en het dit vir ons aangebied. ‘n Kontrak is reeds opgestel en ons as gesin gaan persoonlik verantwoordelik wees om die huurgeld te betaal,” sê Justin.

Die huis het ook ‘n woonstel waar ‘n voltydse personeellid gaan woon om met die versorging van die babas te help.

“Ons volgende gebedsaak is om nou die R20 000 huur en deposito bymekaar te maak,” sê hy.

Grobbler sê hulle trek op 1 Januarie by die nuwe huis, wat as die Grace Baby Haven bekend sal staan, in.

“En ons wil sou gou moontlik daarna gereed wees om die eerste babas wat versorging nodig het, te ontvang. Daar is ‘n geweldige behoefte aan sulke versorging in die stad.

“Die harte, en beursies, van die Laeveld-gemeenskap het werklik oopgegaan sedert ons aangekondig het dat ons die plek van versorging gaan open,” vertel hy.

Die droom en beplanning om só ‘n tehuis op die been te bring, het sowat drie jaar gelede begin nadat hy en Ané ná die geboorte van hul dogter, Jaimie, vir nege jaar deur die pyn van miskrame en ‘n buisswangerskap gegaan het.

LEES OOK: Kinders baat by liefdadigheidsfunksie

Hy vertel die onmoontlikheid om nog ‘n kind te kry het hulle uiteindelik laat besluit om hulle dienste by ‘n veilige hawe vir babas in Pretoria aan te bied.

“Dit was vir ons so ‘n helende proses en daarom het ons besluit om dié voorreg ook vir ander soortgelyke paartjies te skep.

“Dit is toe dat ons deur middel van ons organisasie sonder winsoogmerk (OSW), die City Changers Social Services, besluit het om Grace Baby Haven in Mbombela oop te maak.”

Daar word aanvanklik beplan om net ses babas in te neem, maar as die nood druk, kan hulle 10 versorg.

Ané gaan haar werk bedank om voltyds by die tehuis betrokke te wees.

“Sodra daar genoeg fondse in die OSW beskikbaar is, sal ek ook as finansiële bestuurder bedank en al my kragte by die tehuis ingooi.”

Grobbler sê bo en behalwe die hope skenkings wat hulle ontvang het, het hulle reeds sowat 40 vrywilligers wat aangebied het om met die versorging van die babas te help.

Die Grobbler-egpaar kan by 079 599 0572 of 072 495 1862 geskakel word.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.

For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder

For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button