Aanval op Pretoria-gesin knou toerisme
Melani de Beer (39) en haar twee kinders, Miah (14) en Marnu (11), was op 3 Januarie op pad huis toe na Montanapark in Pretoria toe twee mans omstreeks 12:45 op die R538 by 'n taxistaanplek in Mganduzweni op hul voertuig losgebrand het.
Alhoewel vrae onlangs ontstaan het oor die veiligheid rondom die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) se Numbi-hek, ná die voorval waarin ‘n enkelma en haar kinders van Pretoria deur gewapende mans aangeval is, het die owerhede bevestig dat hulle hul allerbes doen om die booswigte vas te trek.
Daar word intussen beraam dat bykans R1 miljoen se inkomste weens die voorval verloor is, soos toeriste links en regs hulle verblyf by, in en om die NKW kanselleer.

Dit is bevestig deur Linda Grimbeek, hoof van die KLCBT, wat die afgelope week ‘n vergadering met lt.genl. Semakaleng Manamela, die provinsiale polisiekommissaris, oor die voorval gehad het.
Melani de Beer (39) en haar twee kinders, Miah (14) en Marnu (11), was op 3 Januarie op pad huis toe na Montanapark in Pretoria toe twee mans omstreeks 12:45 op die R538 by ‘n taxistaanplek in Mganduzweni op hul voertuig losgebrand het.

“Ek kan bevestig dat die polisie alles in hul vermoë doen om hierdie mense vas te trek. Die nuwe kommissaris is toegewyd en gedrewe. Die polisie is tans besig met ‘n massiewe mensejag en ek kan bevestig dat dit wel so is. Dit is die beste reaksie vanaf die polisie wat ek al in my lewe gesien het,” het Grimbeek aan Laevelder gesê.
LEES OOK: Komatipoort Akademie duik kop eerste die jaar in in!
Sowat 10 dae ná die voorval is niemand egter tot dusver in verband met die voorval in hegtenis geneem nie, en Grimbeek kan nie uitbrei oor die besonderhede van die vergadering tussen haar en die polisiekommissaris nie, om die ondersoek sodoende nie te belemmer nie.
Dumisani Dlamini, die waarnemende hoof van die wildtuin, het intussen in ‘n verklaring gesê dat die provinsiale sekerheidsowerhede gevra is om alle roetes na die park gereeld te patrolleer.

“Ons moedig verantwoordelike lede van die gemeenskap aan om toeriste te beskerm, omdat toerisme die sleutel daartoe is om die plattelandse ekonomie te bevorder.”
Melani het bevestig dat Miah op 8 Januarie uit die hospitaal ontslaan is en dat hulle beplan om teen die komende naweek terug te keer huis toe. Miah is deur een van die koeëls waarmee die vermeende rowers op hulle losgebrand het, in die regterbobeen getref. Die koeël het regdeur haar been beweeg en twee wonde gelaat.
Omdat die koeël vuil was, het daar infeksie in die wond ontstaan, wat twee keer tydens ‘n operasie skoongemaak moes word. Sy het tans ‘n dreineringspyp, en sou hier die week terugkeer hospitaal toe om die wond weer skoon te maak.
Melani het by tye emosioneel geraak toe sy oor die voorval gepraat het. “Dit was wild. Dit het koeëls gereën soos jy in jou lewe nie gesien het nie. Ek het nie eens ‘n sekonde gehad om ‘n besluit te neem nie. Ek dink dis instink en genade van die Here af wat ingeskop het. Ek het vir Miah, wat voor langs my gesit het, agteroor platgedruk, en vorentoe afgebuk en petrol getrap. Hoe ek van stilstand tot op ‘n punt wat ek wegjaag gekom het, weet net die Here.
“As ek nie my kind teruggedruk het nie, en sy het vorentoe gelê, sou hulle haar moontlik in haar nek, skouers of rug raakgeskiet het,” het Melani gesê.
Hulle het ná die tyd gesien ‘n koeël is deur die kant waar Marnu gesit het, wat sy voete moontlik met etlike millimeters gemis het. In die middel tussen Melani en Miah het ‘n pak aartappelskyfies en ‘n geskenk vir hul grootouers vanaf die wildtuin gestaan, wat ook flenters geskiet is.
Daardie aand het sy gedink sy sou in haar motor, koeëlgate en al, moes slaap, maar die Mbombela-gemeenskap het hulle oor dié gesin ontferm. Van gratis verblyf by Casa Marcello tot etes by River on Deck, het talle Laevelders ingespring om hulle te help. Boonop het Van Wettens gesorg dat haar beskadigde voertuig veilig in Pretoria aankom.
LEES OOK: Avontuurkamp neem besoekers op stappie
“Daar is soveel mense vir wie ek moet dankie sê. Hulle het ons werklik ingeneem asof ons van hulle eie mense is.”
Melani het trane in haar oë gekry toe sy gevra is hoe sy oor die hele voorval voel. “Ek dink net dis so onnodig. Dis onskuldige mense wat in die proses seerkry. Ons land is in ‘n gemors en ons het toerisme ontsettend nodig.”
Dít word deur Grimbeek beaam, wie bevestig het dat sy talle oproepe van eienaars in die toerismebedryf ontvang het wat kansellasies ervaar het weens die voorval.
“Dit is werklik verrykend. Lodges en ander akkommodasie het altesaam minstens R1 miljoen weens hierdie voorval verloor. Daar is ‘n toergroep van Engeland wat deur verskeie Afrika-lande toer, wat die Suid-Afrikaanse deel van die toer gekanselleer het oor dit wat gebeur het.”
Die polisie ondersoek sake van poging tot moord en poging tot motorkaping.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.
For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder
For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
