Community galleriesGalleriesLocal newsNewsNews

Dis weer tyd vir die gewilde Maroela Makiti

Dié fees vind vanjaar, Vrydag 25 Februarie, op die kerkterrein in Belladonnastraat plaas.

Die jaarlikse Maroela Makiti, wat dié naweek weer gehou word, het oor baie jare ‘n belangrike gebeurtenis in die Laeveld geword.

Die Hervormde Kerk Nelspruit kon in 2020 laas hul jaarlikse fees aanbied, en is vanjaar uiteindelik weer terug met hope opwinding.

Dié fees vind vanjaar, Vrydag 25 Februarie, op die kerkterrein in Belladonnastraat plaas.

Daar is natuurlik ‘n hele reeks maroelaprodukte wat op jou wag, maar ook al die ander staatmakers, soos vetkoek, kerrie-en-rys, jaffelboordjies, pannekoek, nagereg en nog meer.

Uit die maroela-oord is daar verskeie produkte om na uit te sien, onder meer maroelajellie en -bier.

Die organiseerders het ook nie vergeet van aktiwiteite vir die jeug nie; daar is boog- en kettieskiet.

Daar sal ook gedans word en jenewer geproe word – dít alles terwyl Debbie Kriel en Anne-Mari die besoekers met hul musiek vermaak.

Skakel Danie Erasmus by 013 741 1455 of 083 365 2785 vir enige navrae.

Daar is nog stalletjies beskikbaar vir uitstallers van buite. Indien jy belangstel, skakel die kerkkantoor by 061 947 3918/087 149 0323.

Hoeveel weet nog dat dit die Nelspruit-gemeente van die Hervormers se tradisionele kerkbasaar was wat in so ‘n tradisionele feestelikheid omskep is?

LEES OOK: Mjejane begin ryke geskiedenis uitbeeld

Dit was ook onlangs 75 jaar sedert ‘n Nederduitsch Hervormde Gemeente op 18 Maart 1944 met 116 lidmate hier onder die voorsitterskap van ds. Simon Vermooten, gestig is.

Die grense van die gemeente is aanvanklik vasgestel vanaf Komatipoort tot by die Krokodilpoort, dan met ‘n reguit lyn tot by Rosehaugh en vandaar met ‘n reguit lyn oor die berge na Transvaal Citrus Farms (later bekend as Solomon’s Kloof Farm) in Schoemanskloof.

Van hier was die grens getrek na die Godwanrivier waar Ngodwana vandag geleë is, en dan al met die Nelsberge langs tot by die grens met eSwatini.

Die gemeentes Lydenburg (1927), Witrivier (wat as Plaston bekend was – 1930), Sabie (1935) en Waterval Boven (1941) het toe reeds bestaan.

LEES OOK: Lydenburg-hoof en -adjunkhoofde gearresteer om gees te vang vir interhoër

Die Komatipoort-gemeente het op 2 Maart 1952 en die Barberton-gemeente in 1965 as selfstandige gemeentes van Nelspruit afgestig. Die Malelane-gemeente het in 1980 van Komatipoort afgestig.

In 1947 word ds. DB Snyman van Dullstroom die eerste predikant van die gemeente, wat Dullstroom, Belfast en Nelspruit in samestelling bedien het.

Ds. JPB Viljoen het in Mei 1952 ‘n beroep aangeneem en was die eerste voltydse predikant wat op Nelspruit gewoon het. Volgens ‘n berig in Die Laevelder van 20 Februarie 1976 oor die 25-jarige ampsjubileum van Viljoen, vertel hy dat vier kerkdienste op een Sondag en 24 nagmaalbedienings in een jaar moes hou, en 6 000 km per jaar moes afgelê word om al sy lidmate te bedien. Sy eerste standplaas was die gemeente op Witrivier wat daardie tyd nog die hele Laeveld van Barberton tot Komatipoort, Nelspruit, Witrivier, Sabie en Kampersrus moes bedien.

Ds. PS van Staden het in 1967 die eerste predikant van Nelspruit geword, wat nie ander kombinasieverpligtinge gehad het nie, en was predikant in die gemeente totdat hy in 1982 ‘n beroep in die Vryburg-gemeente aangeneem het.

LEES OOK: Steve Hofmeyr sing dorpie aan die brand

Ds. Kalman Papp en (tans) prof. Yolanda Dreyer het in 1982 die eerste predikante in die gemeente geword wat weens die styging in lidmaattal nie meer deur een predikant bedien kon word nie. Sedert hulle vertrek in 1989 het ‘n hele aantal predikante in hierdie meer standplaasgemeente gedien: Hulle was ds. Jaco Dreyer (1989-1993), ds. Johan Ayres (1990-1992), ds. Peet Swanepoel (1994-1997), ds. Willem Oliver (1992-1999), ds. Erna Oliver (1993-1999), ds. Pierre Jacobs (2002-2007-deeltyds) en ds. Hennie Engelbrecht (2015-2017-deeltyds).

Die huidige predikante is ds. Gert Macdonald (1996 – deelsorg, 1998 – voltyds) en ds. Natasha Smit (2021). Die eerste kerkgebou was wat vandag die M.O.T.H.-saal in Russellstraat is.

Daarna was die gebou in Van Niekerkstraat agter die Absa-gebou, waar die kantore van Du Toit-Smuts, die prokureurs, vandag staan. Die huidige gebou is in Belladonnastraat in West Acres.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.

For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder

For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram 

 
Back to top button