Local newsNewsNews

Liefdadigheid tree in vir man se knievervanging

Gert Hawkins sê toe hy die nuus gekry het dat die befondsing vir sy knievervanging afgehandel is, kon hy nie die trane keer nie. Min mense ken waarskynlik dié naam, maar jy kon hom dalk al by Courtside SPAR se robot gesien het.

“Luister, sit of staan jy?”

Dit was Elaine Blignaut se woorde aan Gert Hawkins per telefoon, die dag toe die befondsing vir sy knievervanging afgehandel is.

Min mense ken waarskynlik vir Hawkins (63) op sy naam, maar as jy al ooit by Courtside SPAR se verkeerslig verby is, sou jy hom dalk al daar in sy rolstoel gesien het.

Elaine Blignaut en Gert Hawkins.

Blignaut vertel hoe sy hom dikwels daar gesien het, tot sy eendag vir ‘n koerantverkoper gevra het om sy nommer vir haar te gee sodat sy kon uitvind wat sy storie is.

LEES OOK: Innibos nog nie terug na pre-Covid-glorie, maar 2022 is definitief “Heeltyd Feestyd”

Sy regterbeen is ongeveer 10 jaar gelede bokant die knie geamputeer, na ‘n onsuksesvolle knievervanging. Op hierdie stadium kan hy nie sy linkerbeen heeltemal reguit maak nie. Hy sê dit is maar weens osteoporose.

Gert Hawkins.

Dit is hier waar Blignaut en die Round Table White River 64 ingetree het.

Na Blignaut die storie agtermekaargekry het, het sy na organisasies begin soek wat die knievervanging vir Hawkins se linkerbeen sou befonds.

Keer op keer is sy teleurgestel, tot sy by die Round Table uitgekom het.  Laasgenoemde het R30 000 tot die operasie bygedra wat vir 7 Maart by Busamed Laeveld Privaat Hospitaal geskeduleer is. Van Blignaut se kant af kom daar ‘n verdere R10 000.

Hawkins het Woensdagoggend vir die eerste keer sy weldoeners in Laeveld Media se parkeerterrein ontmoet – voorheen het hy en Blignaut slegs telefonies gekommunikeer.

Gert Hawkins.

Sy gesprekke met beide rolspelers het van absolute dankbaarheid getuig. Hulle hulp beteken hy hoef nie meer by daardie verkeerslig te sit nie. “Party dae kry jy R10, partykeer gooi die ouens jou met ‘n waterbottel, daai klas van ding.”

LEES OOK: Twee koeëlpunte laat inwoners kopkrap

Hy sê toe hy die blye nuus by Blignaut gekry het, kon hy nie die trane keer nie. As jong seun was hy lief vir atletiek en het hy vir meer as 30 jaar in konstruksie gewerk, waar hy op dakke kon rondklim.

Toe hy Round Table se JL Coetzee bedank, was Coetzee se antwoord eenvoudig.

“Oom, dis wat ons wil doen; ons wil help. In ons organisasie het ons tyd tot 40, so ek het nog drie jaar oor. Ek moet nou insit wat ek kan insit, so as ons Oom kan help, is ek net dankbaar daarvoor.”

Na die knievervanging en die nodige hersteltyd, is daar ook ‘n prostese wat vir Hawkins se regterbeen wag. Om te sê hy is opgewonde vir daardie eerste treë, is om dit ligtelik te stel.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.

For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder

For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button