Hard newsNews

Danie is nét die man vir Bossies Community Justice

Danie laat egter 'n groot deel van sy hart by die kennels by die honde-eenheid agter - Bertus. Hy was Danie se regterhand op meeste van die tonele en hy het hom met 'n baie swaar hart gaan groet

MBOMBELA – Daar is ‘n nuwe man aan die stuur van sake by Bossies Community Justice (BCJ). Hoewel hy groot skoene het om vol te staan met dié dat Jacques Meiring as operasionele bestuurder bedank het, is daar geen twyfel dat sy plaasvervanger hom uitstekend van sy taak gaan kwyt nie.

Danie Theron, wat tot einde verlede jaar as AO by die honde-eenheid op Witrivier werksaam was, neem nou die leisels oor. Danie het min bekendstelling nodig. Hy het deur die jare baie opskrifte in Laevelder gehaal met sy betrokkenheid by verskeie reddingspogings. Hy het al baie drenkelinge se liggame uit riviere gehaal en vermistes help opspoor. Saam het hy en AO André de Lange in 2013, 136 mense op één dag gered wat vasgekeer was deur vloedwaters.

Lees ook: Update: Rescue workers have their hands full with Lowveld floods

Danie het nog altyd gehelp waar hy kan, of hy nou aan diens was of nie. Só het hy ook een middag in September verlede jaar nie gehuiwer om te stop by ‘n verlate voertuig op die Mabalel/Uitkyk-pad waar hy woonagtig is nie. Hy het gedink dat die bestuurder dalk net sonder brandstof gaan staan het, hy het afgekom op die erg beseerde mnr. Robert Patterson (86) wat oomblikke tevore ernstig deur ‘n ryloper met ‘n els aangerand en vir dood agtergelaat is.

Lees ook: Elderly man is stabbed 18 times by hitchhiker

Danie het druk op die bloeiende wonde in Patterson se nek opgepas totdat ‘n ambulans opgedaag het. Hy het die ryloper se spore tot in die veld gevolg en op ‘n oorpakbaadjie met die els in die sak afgekom wat as bewysstuk ingehandig is. Patterson het later opgemerk dat hy sy lewe aan Danie te danke het. “Ek sou doodgegaan het as hy nie gestop het nie,” het hy gesê.

Danie sou op 9 Januarie 29 diens in die Suid-Afrikaanse Polisiediens gehad het. Hy het destyds as konstabel by die stasie op Thabazimbi begin. Hy was egter “vasgekeer in ‘n kantoor” en het niks daarvan gehou nie. Hy is in 1990 na die speurtak hier in Mbombela verplaas en het die volgende jaar by die honde-eenheid begin. Danie het verskeie kursusse voltooi en kon ondermeer springstof- en patrollie-honde hanteer. Hy het in 1997 ‘n patrollie-hond-instrukteur geword en het in 2002 met reddings-honde begin werk.

Hy was egter die afgelope 20 jaar lank ‘n adjudant-offisier en het besef dat sy kanse op bevordering feitlik nul is. “Ek is op 1 Julie 1995 bevorder. Ek was nog ‘n wawiel-AO,” het Danie gelag. Hoewel sy werk by die honde-eenheid nog sy uitdagings gebied het, het Danie gevoel hy stagneer. “‘n Ou wil voel jy gaan vorentoe. Ek het kinders om te versorg en verwagtinge van die lewe. Ek gaan nie daarby uitkom as ek by die polisie sou aanbly nie,” het hy verduidelik.

“Ek het twee keer vantevore uit eie krag ‘n ander werk probeer kry. Ek het toe besef dat die Liewe Vader die regte werk oor my pad sou laat kom en dit het toe so gebeur,” het Danie bygevoeg. Hy is baie opgewonde en het baie planne. “Die Laeveld gaan nog méér van BCJ kennis neem,” het hy gesê.

BCJ het nie betalende kliënte nie en hulle help almal wat uit nood hulle skakel. Danie wil ondermeer sy ervaring met reddingstonele by Bossies aanwend. Hy het onlangs by Off Road Rescue Unit (Orru) aangesluit en hulle is in die proses om BCJ se voertuie as reddingsvoertuie te laat registreer.

Lees ook: Body of pilot retrieved from plane wreck

Padveiligheid lê BCJ ook na aan die hart en, hoewel hulle nie wetstoepassingsmagte het en oortreders kan arresteer nie, wil hulle graag bewusmakingsveldtogte oor padveiligheid loods.

Hulle wil ook later hierdie jaar ‘n derde voertuig aanskaf en iemand aanstel wat hiermee Witrivier en Rocky Drift sal patrolleer.

Danie laat egter ‘n groot deel van sy hart by die kennels by die honde-eenheid agter – Bertus. Hy was Danie se regterhand op meeste van die tonele en hy het hom met ‘n baie swaar hart gaan groet. “Bertus moes agterbly en dit was die moeilikste om te gaan totsiens sê,” sê Danie. Hy is tans besig om ‘n skaaphondjie op te lei wat moontlik later kan deel word van BCJ se gedugte span.

Intussen is Danie en Hennie Visser gerat vir 2016 en reg om die stad se misdadigers te laat les opsê. Danie of Hennie is 24 uur, elke dag beskikbaar by 082-567-5212.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button