Hard newsNewsUpdate

Drawwer het breinskade ná bye hom steek

Hy is tans wakker, maar in 'n permanente vegetatiewe toestand en daar is geen hoop op herstel nie. Sy breinstam is egter nie beskadig nie en dit is waarom sy hartklop en asemhaling normaal is. Gert is nie meer bewus van wat om hom gebeur nie

MBOMBELA – ‘n Drawwer wat verlede jaar deur woedende bye getakel is en wie se hart daarna 12 minute lank gaan staan het, het onherstelbare breinskade.

Mnr. Gert van der Merwe (41) is wakker, maar in ‘n permanente vegetatiewe toestand.

Laevelder het verlede jaar berig oor Van der Merwe wat saam met sy vriendin en twee seuns op ‘n plaaspaadjie op die Friedenheim-landgoed gaan draf het.

Hy het 19 jaar op dié plaas gewoon en ‘n staalonderneming bedryf. Daar is bye op die plaas om makadamiabome te bestuif en Van der Merwe en sy gesin was van die korwe bewus. Plaaswerkers het egter glo vroeër daardie dag met die korwe gewerk en dit het die bye vermoedelik versteur. Hulle het die middag van 30 September gaan draf toe die bye hulle takel.

Lees ook: Man kritiek na bye hom takel

Die groep het later uit desperaatheid in ‘n nabygeleë kanaal gespring, maar die bye het bo die water bly drom en hulle aangehou steek. Een van sy seuns kon later daarin slaag om huis toe te hardloop en het sy pa se bakkie gaan haal. Hy het met hom na Mediclinic Nelspruit gejaag. Toe hulle daar stillhou, het Van der Merwe se hart reeds gaan staan en dit het personeel 12 minute geneem om hom by te bring.

Sy suster, me. Anita van Wyk, kon nie sê hoeveel bysteke hy gehad het nie, maar het nog vertel hoe die angels uitgekom het wanneer hulle hom oor sy kop gestreel het. “Selfs uit sy wenkbroue,” het sy bygevoeg.

Hy is etlike weke in die intensiewe sorgeenheid behandel en later na Life Pasteur in Bloemfontein oorgeplaas. Hy was lank in ‘n natuurlike koma en het November sy bewussyn herwin. Van Wyk het Sondag gesê dat hulle, na nóg ‘n breinskandering en opvolgondersoek deur sy neuroloog, in kennis gestel is dat Van der Merwe “uitgebreide en onherstelbare breinskade opgedoen het”.

“Hy is tans wakker, maar in ‘n permanente vegetatiewe toestand en daar is geen hoop op herstel nie. Sy breinstam is egter nie beskadig nie en dit is waarom sy hartklop en asemhaling normaal is. Gert is nie meer bewus van wat om hom gebeur nie. Hy kan ook nie op enige stimulus reageer nie.”

Van Wyk het gesê dat hulle haar broer later na een van hulle plase sal bring waar hulle ma hom permanent sal versorg. Hoewel Van der Merwe oor ‘n mediese fonds beskik, betaal dit glad nie vir sy buisvoeding wat die familie tot R20 000 per maand uit die sak jaag nie.

Diegene wat ‘n bydrae kan lewer tot dié kostes, kan Van Wyk by 083-294-5292, asook mnr. Lukas van der Merwe by 083-274-1944 skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button