MBOMBELA – Die vrou wat na bewering seksueel deur ‘n 17-jarige seun geteister is, het hom eerder by sy ouers as by die polisie gaan verkla.
Die tonge het vandeesweek geklap toe dit uitkom dat die hoërskoolseun eksplisiete pornografiese foto’s en suggestiewe boodskappe aan die 36-jarige ma van drie gestuur het. Laevelder het Dinsdag berig dat die vrou onkant gevang was deur ‘n grys-en-wit foto van ‘n man wat orale seks op ‘n vrou toepas. “Om sulke goed op jou selfoon te ontvang is aaklig. Ek voel so geskend,” het sy gesê.
Die seun het glo aan die vrou se nommer gekom toe hy haar gevra het om in 2015 ‘n foto van hom en sanger Bobby van Jaarsveld by ‘n konsert te neem. Sy het vertel dat sy die foto vir die seun moes aanstuur, omdat sy dit sommer op haar selfoon geneem het.
Facebook-gebruikers het uiteenlopend op die berig gereageer. “Sy het seker maar hiervoor gesoek,” het mnr. Klasie Itireleng Olivier geskryf. “Ek vermoed daardie tannie is nie so onskuldig nie. Sy moes op ‘n stadium saamgespeel het en toe dit te warm raak, toe beskerm sy haarself voor haar man uitvind,” het mnr. Johan Orton en Monique se gesamentlike profiel beweer.
Baie Facebook-gebruikers het gesê dat daar twee kante aan elke storie is en gewonder wat die seun se weergawe van gebeure was. Alhoewel Laevelder hom of sy ouers nie vir kommentaar kon opspoor nie, het die vrou sy ouerhuis glo Dinsdag besoek. Laevelder kon hul besonderhede ook nie by die slagoffer kry nie.
Die seun het haar weergawe na bewering bevestig. “My nommer was onder ‘n vraagteken op sy selfoon geberg. Hy het dus die boodskappe vir my gestuur sonder dat hy geweet het wat my naam was,” het sy gesê. Sy het toegegee dat dit ‘n vreemde verduideliking was, maar gemeen dat die seun se optrede aan sy ouers verduidelik is en dat enige straf of rehabilitasie nou in hulle hande was.
Volgens die slagoffer het die seun erken dat hy vir haar en ander vroue soortgelyke boodskappe gestuur het. “Glo my, ek is nie sy enigste teiken nie,” het sy gesê. Hy het glo berou getoon vir sy dade en gesê dat hy bereid is om hulp te kry vir die probleem wat hierdie optrede veroorsaak.
Kort daarna het nog ‘n slagoffer, me. Heidi Botha Botes, op Laevelder se Facebook-blad na vore gekom. “Daardie seun is vriende met ons kinders,” het sy gesê. “Ek weet wie hy is, maar ken hom van geen kant af nie. Hy het skielik my ook begin WhatsApp, hy moes my nommer by een van sy maats gekry het of op Facebook. Ek het dadelik vir hom gesê hy moet op die treinspoor gaan speel en hom geblok! Dus ja, daai vrou glo ek, is onskuldig. Die laatie vat kanse met sy vriende se ma’s…”
Laevelder het berig dat die seun tot onlangs toe by ‘n vooraanstaande plaaslike skool ingeskryf was. Verdere ondersoek het bevestig dat hy intussen na ‘n ander skool in die stad is. Sy huidige hoof wou egter nie kommentaar lewer nie. In reaksie op die vraag of die seun ‘n risiko vir ander leerling inhou, het die skool homself uitdruklik van die voorval gedistansieer.
Die 36-jarige vrou het gesê dat sy kontak met die seun se ouers sal behou om seker te maak dat die probleem aangespreek word. “Om hom aan te kla, is nie uitgesluit nie. Dit sal wel beter wees as die kwessie met behulp van sy ouers opgelos kan word,” het sy gesê.
Lees oorspronklike berig hier: Hoërskoolseun stuur skokfoto’s vir ma van drie.
