
MBOMBELA – Kenners meen dat El Niño uiteindelik sy greep verslap het, maar volgens ‘n beampte van Mpumalanga se rampbestuur, blyk dit heel anders te wees.
To read the English version of the article, click here: El Niño may soon be over
Hy het gesê dat, hoewel ons bogemiddelde reën teen die einde van die somer en vroeë herfs kan verwag, sal dit gepaardgaan met bo-normale temperature.
Bogemiddelde reënval, is volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens se historiese reënkaarte tussen 55 en 120mm in Maart, en tussen 13 en 40mm in April. Dit beteken dus nié dat dié bogemiddelde reënval noodwendig genoeg gaan wees om verligting te bring nie. Volgens die provinsiale woordvoerder van die Departement van Waterwese, mnr. Themba Khoza, benodig die Laeveld nog heelwat reën om die damvlakke weer te laat normaliseer.
Volgens rampbestuur, het die vlakke die afgelope jaar met ‘n gemiddeld van ongeveer 34% gedaal, en verminder steeds op ‘n daaglikse basis weens ondergemiddelde reën. Streng waterbeperkings is reeds in die grootste gebied van die provinsie ingestel, en hoë temperature sal tot en met Mei vanjaar voortduur.

Meer as 10 000 plase is reeds deur die droogte in Mpumalanga beïnvloed en meer as 2 000 diere is dood. Dié vrektes is meestal weens die inname van indringer of giftige plante. Die beampte van rampbestuur het bygevoeg dat ‘n abnormale hoeveelheid malaria, vrugtevlieë en hondsdolheid in die Laeveld bespeur is. Hy het bevestig dat Mpumalanga tans as ‘n rampgebied verklaar is. Die provinsie se damme is slegs 51% vol is, en daar is geen beduidende toename in die vlakke in sig nie.

Maar, daar is tog, volgens Nasa, lig aan die einde van die tonnel. Dit voorspel dat die El Niño-verskynsel uiteindelik sy piek bereik het, en dat die temperatuur van die Stille Oseaan, wat die aanvanklike oorsaak daarvan was, stadig maar seker besig is om te daal (La Niña).

17 Januarie 2015.
Verlede jaar was die warmste wat die oseaan nog was, met 2,38°C – ‘n volle 0,14°C warmer as in 1997. Nasa voorspel dat die La Niña dié winter sy verskynsel sal maak.
Dit lei egter tot die volgende vraag: Gaan die oseaan soos dit in 1983 en 1998, met bogemiddelde reënval, reageer?
