Hard newsNews

Skouvereniging en stadsraad pak mekaar in Appélhof

'n Interdik verbied die oordrag van die gronde.

MBOMBELA – Die Stad van Mbombela Plaaslike Munisipaliteit (SMPM) en verskeie politieke organisasies het in 2015 beloof om ‘n stokkie voor die verkoop van die Nelspruit Skougronde te steek. Die munisipaliteit het dit in Julie vanjaar met ‘n bevel in die Hooggeregshof reggekry. Die Laeveld Skouvereniging sal volgende jaar in die Bloemfontein Appélhof daarteen appelleer.

Die ou Skougronde se ligging.
Die ou Skougronde se ligging.

Die SMPM en die skouvereniging stoei sedert 2015 oor die stuk grond wat in 1950 deur die destydse stadsraad aan die vereniging geskenk is. Dit staan volgens ‘n titelakte bekend as “Gedeelte 85 van die plaas Nelspruit”. ‘n Aangrensende stuk grond, “Gedeelte 39”, is met die jare saam deur die vereniging gekoop en het deel van die skouterrein gevorm. Die vereniging het die twee eiendomme in Februarie 2015, as ‘n eenheid opgeveil vir R28 miljoen.

Kliek hier vir ‘n video van die veiling.

Nghwazi TT Investment (Pty) Ltd was die koper. Die maatskappy is deur me. Suzan Fikile Mkanzi verteenwoordig.

Voordat die eiendom opgeveil is, het die munisipaliteit die vereniging skriftelik gewaarsku dat dit “die veiling sal stopsit”. Mbombela se burgemeester, mnr. Sibusiso Mathonsi, het die munisipaliteit se teenkanting van die eiendomsoordrag op 28 Mei verlede jaar bevestig.

Die munisipaliteit het, volgens hom, gevoel dat die grond eerder weer munisipaliteitseiendom moet word sodat dit “tot voordeel van die gemeenskap” benut kan word. Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) het hom by die munisipaliteit geskaar en in 2015 skriftelik versoek dat die veiling nie plaasvind nie en die grond eerder aangewend word “in lyn met die Grondwet se doel en oogmerke”.

 

“Ons maak beswaar teen die koloniale metode waarop die proses hanteer word. Grond behoort aan dié sonder grond en armes gegee te word,” het die SAKP gesê. Twee dae voor die veiling op 28 Februarie 2015, het die SMPM die grond met ‘n gebrekkige onteieningskennisgewing probeer onteien. Na die veiling, het dit geweier om nodige dokumente vir die eiendomsoordrag, uit te reik.

Kliek hier vir die berig oor die munisipaliteit se weiering.

Dit was die begin van ‘n hofstryd tussen die skouvereniging en die munisipaliteit. Laasgenoemde het die voorwaardes tot die vereniging se eienaarskap van die grond, gefynkam. ‘n Voorwaarde in die titelakte het die oordrag van die eiendom aan ‘n koper wat nie landbouskoue daar sal voortsit nie, verbied. Die destydse Administrateur van Transvaal, dr. Willem Cruywagen, het hierdie voorwaarde egter in 1983 per endossement opgehef. Die munisipaliteit het in die Hooggeregshof aangevoer dat daardie opheffing onwettig was.

Dr. Willem Cruywagen. (Foto: NWU)
Dr. Willem Cruywagen. (Foto: NWU)

Die regter, mnr. Jody Kollapen, het in sy uitspraak verduidelik waarom hy die munisipaliteit gelyk gegee het. Artikel 2 van die “Removal of Restrictions Act” (Rora) het bepaal watter voorwaardes met betrekking tot grond opgehef kon word. “Rora maak nie voorsiening vir die verwydering van ‘n voorwaarde wat met die vervreemding van grond verband hou nie,” het Kollapen gesê. “Die administrateur het onregmatig opgetree.”

Die verwydering van die voorwaarde is ter syde gestel. ‘n Interdik wat die skouvereniging verbied om die eiendom aan Nghwazi TT Investment oor te dra, is toegestaan en ‘n kostebevel is teen die vereniging gemaak.

Prokureur mnr. Johann du Preez het gesê dat aansoek om teen Kollapen se beslissing te appeleer, toegestaan is. “Die voorsittende regter het beslis dat die regsaspekte betrokke regverdig dat appél na die Appélhof die beste opsie is,” het hy gesê. Volgens skoudirekteur mnr. Louis Kotzé, het Kollapen toegegee dat ander regters tot ‘n slotsom kan kom wat van syne verskil.

“As ons appél nie toegestaan word nie, kan dit verreikende gevolge inhou vir grondeienaars wie se titelaktes soortgelyke endossemente bevat,” het hy gesê.
Intussen het die voormalige skougronde oor die afgelope 21 maande verval. Slegs murasies is oor van die strukture wat daarop gebou was.

Kliek hier vir meer oor die skougronde se verval.

Koperdiewe het deurknoppe, meubels, bedrading en ondergrondse kabels gestroop. Die munisipaliteit het vroeër vanjaar ‘n sekuriteitsmaatskappy gekontrakteer om wagte daar te ontplooi om boosdoeners weg te hou. Laevelder het vroeër berig dat hope rommel daar gestort is. Nadat ‘n polisielid daar betrap is terwyl sy rommel daar aflaai, het iemand al die rommel van die perseel af verwyder. Die publikasie het die polisie en die munisipaliteit gevra wie die opruimwerk gedoen het.

Geboue op die terrein is geplunder.
Geboue op die terrein is geplunder.

Nie een het gereageer nie. Vir Kotzé en sy komitee is dit tragies dat die eiendom so agteruit gaan. Mkanzi het vroeër vanjaar by navraag gesê dat sy nog geen planne vir die eiendom het nie en wag vir die hof se uitspraak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button