MBOMBELA – Die kans dat aansteeklike dieresiektes soos hondsdolheid in armer gebiede kan toeneem, is ‘n werklikheid indien geld nie meer deur die Lotto vir uitreikprogramme beskikbaar gestel word nie.
Dit is die reaksie van mnr. Jaco Pieterse, skakelbeampte van die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) op die aankondiging van me. Chickey Mofet-Mubu van die Nasionale Loterykommissie (NL) dat dierewelsynorganisasies nie vanjaar geld by die Lotto gaan kry nie.

Die kommissie se nuwe strategie word volgens haar in ooreenstemming met die regering se Nasionale Ontwikkelingsplan gestroomlyn om die klem op beskerming en ondersteuning van gestremdes, weeskinders, vroue en bejaardes, sowel as op die voorkoming van misdaad te plaas.
Pieterse het benadruk dat die besluit nie net diere se gesondheid nie, maar ook die gemeenskappe s’n sal raak. Armer gemeenskappe sal op verskeie vlakke die hardste getref word.
“DBV’s help hierdie gemeenskappe baie met werksdiere soos donkies en perde. As daar nie na hulle omgesien word nie, gaan inkomste verlore,” sê Pieterse.

Hy het aan Laevelder verduidelik dat dit veral in die lig van die Konstitusionele Hof se onlangse erkenning van diereregte onaanvaarbaar is dat die toekennings gestaak word.
Me. Marcelle Hoffmann, inspekteur van die plaaslike tak, sê dat hulle vanjaar juis vir ‘n toekenning wou aansoek doen.
“Dit raak die armstes van die armstes as DBV’s nie kan help nie. Hierdie gemeenskappe kan nie hulle diere na ons toe bring nie. Ons moet hulle diere gaan haal om te versorg en na gemeenskappe ry om hulle teen siektes in te ent.”

“Die feit van die saak is dat mense en diere se welsyn nou verbind is. Dit is kortsigtig om anders te dink.”

Me. Karen Erasmus van Pro-Life, sê dit is hartseer dat die regering nie kan sien hoe die besluit juis die armer gemeenskappe sal beïnvloed nie. “Daar kan nou maklik ‘n bevolkingsontploffing onder diere in armer gemeenskappe wees. Sterilisasies is duur. Uitreikprogramme help daarmee. Ons wou self vanjaar aansoek doen om ons daartoe in staat te stel.”

Sy voorsien ook dat wreedheid teenoor diere sal toeneem indien dierewelsynorganisasies nie meer voorligting kan doen nie.
• In 2015 het die Ehlanzeni-distrik in Mpumalanga (wat Mbombela insluit) die meeste gevalle hondsdolheid per vierkante meter in die land gehad volgens dr. Jacqueline Weyer van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes. Kliek hier en leer meer oor dié statistiek.
