Laeveld-swendelaar mislei boekhouer van Roodepoort met duisende
'n Finansiële nagmerrie vir 'n Roodepoortse boekhouer het haar nie net duisende rande gekos nie, maar ook verleë gelaat.
Wat begin het as ‘n onskuldige kommentaar op ‘n TikTok-foto, het vir ‘n 34-jarige boekhouer van Roodepoort in ‘n finansiële nagmerrie ontaard.
Rolinda Robbertse het binne ‘n paar weke meer as R60 000 verloor nadat sy deur die berugte Laeveld-swendelaar, Daniël Maré, mislei is.
Robbertse vertel dat sy in November 2025 vir die eerste keer met Maré in aanraking gekom het.
“Ek het ‘n ligsinnige kommentaar op een van sy foto’s gelewer. Binne ‘n uur het hy my gekontak.”

“Hy was ongelooflik sjarmant,” sê sy.
Daardie eerste gesprek het haar laat glo dat hy opreg was. Hy het haar vertel van ‘n wildsplaas in Schoemanskloof en het haar vinnig in sy wêreld ingetrek. “Hy het my laat voel asof ek iemand besonders is,” sê sy.
LEES OOK: Maré se swendelary laat talle Laevelders finansieel in die steek
Die begin van die patroon
Binne ‘n paar uur het die eerste versoek gekom: ‘n skootrekenaar teen ‘n ‘baie goeie prys.’
Hy het haar gevra om die helfte van die R2 500 koopprys oor te betaal. “Ek het ongemaklik gevoel, maar tog het ek R1 000 gestuur,” sê sy.
Dit was die begin van ‘n patroon. Kort daarna het hy haar vertel van ‘n luukse bootreis wat glo vir Desember bespreek is. Hy het verduidelik dat sy vriende die reis moes kanselleer en dat hy die kaartjies teen ‘n afslag kon kry.

> Foto: Facebook/Daniël Maré
Hy het haar oortuig om R15 000 oor te betaal, ten spyte van haar bedenkinge.
“Hy het my telkens oortuig dat ek hom kon vertrou. Ek het selfs ‘n persoonlike lening van R10 000 aangegaan om vir hom te gee. Ek het gevoel soos sy OTM,” sê sy.
Teen 23 Desember het sy reeds R64 000 aan hom oorbetaal.
In hegtenis geneem
Toe sy skielik geen reaksie meer van hom kry nie, het sy besef iets is fout. Later het sy uitgevind dat Maré daardie dag op Kruger Mpumalanga Internasionale Lughawe in hegtenis geneem is omdat hy sy paroolvoorwaardes verbreek het.
Maré is in Mei 2025 tot drie jaar tronkstraf gevonnis op ‘n klag van bedrog, maar is na sewe maande op parool vrygelaat. Hy sit tans in die tronk in Mbombela en sal binnekort weer voor die paroolraad verskyn om te bepaal of hy die res van sy vonnis moet uitdien.
LEES OOK: Beweerde Laeveldse swendelaar in Mbombela in hegtenis geneem
Haar verhaal moet ander waarsku
Vir Robbertse was die finansiële verlies groot, maar die emosionele impak nog groter.
“Die ergste was die verleentheid om vir my familie en vriende te vertel wat gebeur het. Ek was diep geskok dat ek toegelaat het dat hy my so manipuleer,” sê sy.
Kort na Kersfees het sy ‘n klag van bedrog by die polisie aanhangig gemaak. Sy hoop dat haar verhaal ander kan waarsku teen soortgelyke swendelary.
