William’s Jumping Castle’s oop vir besigheid
Jessica Reichert is ‘n naam wat nog baie gehoor gaan word, veral onder die ouers met peuters, kleuters en jong kinders.
Jessica Reichert is ‘n naam wat nog baie gehoor gaan word, veral onder die ouers met peuters, kleuters en jong kinders. Sy is die vrou wat onlangs besluit het dat Piet Jumping Castle’s die ideale geleentheid is waarvoor sy gewag het. Vandag is sy die eienaar van dié besigheid, wat voortaan as William’s Jumping Castle’s, na haar vyfjarige seun vernoem, bekend sal staan.
Jessica en haar gesin het vier jaar in Australia gebly, en met hul terugkeer het hulle hulself in Mpumalanga gevestig. Die Reichert’s is nou reeds twee en ‘n half jaar van die Barberton-gemeenskap deel.
Afgesien daarvan dat sy dit as ‘n goeie belegging gesien het, wou ons weet hoekom juis springkastele, want daar is tog baie ander besigheidsgeleenthede beskikbaar.
“Ek weet dat springkastele altyd in aanvraag sal wees. Kinders is baie lief daarvoor en omdat ek ‘n ma is, en weet hoe William se gesiggie opgehelder het wanneer ons in die verlede vir hom ‘n springkasteel gehuur het, het ek besluit om daardie blydskap binne bereik van ander kindertjies te plaas.”
Barbertonners hoef geensins te vrees dat die pryse gaan styg noudat dit met ‘n nuwe naam en eienaar spog nie. Jessica wil almal die versekering gee dat sy die pryse net so laag gaan hou soos dit in die verlede was.
Wat meer is, as openingsaanbod, het sy besluit om tot einde Maart ‘n afslag van 15% op die springkastele en water-glybane aan te bied.
Tans is daar vyf kleurvolle springkastele om van te kies en ook ‘n verskeidenheid waterglybane.
Besighede en individue kan haar gerus nader, want wat is lekkerder as om die kleintjies te bederf en besig te hou tydens ‘n funksie sodat die mammas ook ‘n kans gegun kan word om saam met die grootmense te kuier.
Jessica beoog om in die toekoms die besigheid uit te brei sodat dit sal voorsiening maak vir alle aspekte van geleentheidsbeplanning sover dit kinderpartytjies aanbetref. “Dit is nog ver in die toekoms. Vir nou wil ek eers al my energie en aandag by William’s Jumping Castle’s bepaal.”
Jessica kan by 079-501-3318 geskakel word.
