Hard newsLocal newsNews

Siekte eis ‘n hoë tol van seuntjie

Hy het sedert sy eerste besoek aan die hospitaal reeds 12kg verloor.

MBOMBELA – Elf weke gelede was Arthur Cilliers nog ‘n springlewendige negejarige seuntjie wat berge wou versit en speel tot die son saans sak.

Vandag is dit byna sy 70ste nag wat hy in ‘n hospitaalbed sal deurbring.

Arthur se ma, Alana, het hom 10 weke gelede na die Barberton Hospitaal gehaas nadat hy onophoudelik begin braak het en met diarree begin sukkel het.

“Ek het onmiddellik onraad vermoed omdat ek weet Arthur eintlik ‘n baie gesonde seuntjie is. Hy is dadelik opgeneem, maar dokters kon nie vasstel wat hom makeer nie. Talle toetse is op hom gedoen, maar almal het negatief teruggkom,” vertel sy ma.

Vier weke gelede het dokters eindelik ‘n deurbraak gemaak en Arthur is met Crohn’s se siekte gediagnoseer.

Hy het sedert sy eerste besoek aan die hospitaal reeds 12kg verloor. “Toe hy die eerste keer opgeneem is, het hy 32kg geweeg – toe hy op 1 Junie in Mediclinic Nelspruit geweeg is, het hy ‘n skrale 20kg geweeg,” vertel sy ma.

“Dit breek ‘n ouer se hart om jou kind so te sien. Met tye is hy so honger, maar kan doodeenvoudig nie eet nie. Hy hou nie sy kos in nie en soms as hy net die kos ruik, word hy naar.”

Alana verduidelik dat Arthur op ‘n emosionele vlak net soveel deurmaak as fisies. “Hy het geen emosionele vlak meer oor nie. Hy is emosioneel gedaan en uitgeput. Soms huil hy en ander kere kry hy woedeuitbarstings.”

Sy ma sê in sulke gevalle is die dokter sy enigste troos.

Arthur se pa is in Oktober verlede jaar oorlede en het kort voor sy dood suurstof gekry.

Arthur word nou gereeld gestoom en volgens Alana dink Arthur met tye dat hy dieselfde behandeling as sy pa kry.

“Hy vra kort-kort of hy ook gaan doodgaan soos sy pa en dit breek mens se hart. Dit is moeilik om vir ‘n negejarige kind die verskil te verduidelik en dat hy nie bang hoef te wees dat dieselfde met hom gaan gebeur nie.

Finansieel is hierdie familie ook teen die grond. Alhoewel Arthur aanvanklik in Barberton Hospitaal sowel as Rob Ferreira opgeneem is, het ‘n familielid uit desperaatheid aangebied om Arthur se onkoste by ‘n privaat hospitaal te dek. Alana het geen mediese fonds nie en werk nie tans nie weens Arthur se toestand. Hulle maak op ondersteuning van weldoeners staat.

“Die mense het ons al ongelooflik bygestaan deur hierdie tyd en woorde kan nie beskryf hoe dankbaar ons is nie,” het sy uit haar hart gesê.

Die realiteit bly egter dat die koste bly ophoop. “Elke week is daar nog en nog toetse wat gedoen moet word. Arthur het ‘n baie seldsame vorm van dié siekte en ek vermoed dokters mis iets,” het sy bekommerd bygevoeg.

Alana se suster, Vicky, het intussen ‘n fonds vir Arthur gestig en indien enige persoon ‘n finansiële bydrae wil lewer, kan fondse in die volgende rekening gedeponeer word: Absa Tzaneen, takkode 334 349, Moneybuilder Acc, Rek.nr. 9164779835, Swift-kode: ABSZAJJ of haar skakel by 082-883-6689.

Volgens Alana is dit hoogs waarskynlik dat Arthur binnekort na Pretoria oorgeplaas sal word.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button