Vyf dinge om te onthou as jy ‘n wildsmisdaad forensies ondersoek PLUS VIDEO
Juan de Beer wys 'n span polisiebeamptes hoe om 'n wildsmisdaad forensies te ondersoek in die doodsvelde in die suide van die Nasionale Kruger Wildtuin.
SKUKUZA – Juan de Beer, bestuurder: Biodiversiteit Wetstoepassing (Groen Skerpioene) van die Mpumalanga Toerisme en Parke-agentskap (MTPA) en forensiese ondersoeker van wildsmisdaad, het onlangs ‘n span polisiebeamptes van dwarsoor Suid-Afrika tydens ‘n daglange kursus laat sweet toe hy hulle vier kilometer na ‘n misdaadtoneel in die episentrum van renosterstroping in die Nasionale Krugerwildtuin, vir ‘n kursus laat aanpak het.
Die span, wat in daardie stadium reeds ‘n kursus in die boor van renosterhorings om DNA te verkry vir aanstuur na die Rhino DNA Indeks Stelsel (RhODIS) ondergaan het, het ‘n vier dae oue renosterkarkas vir bewyse gaan ondersoek. Die soektog was veral na die koeël wat die ou grote platgetrek het.
De Beer het aan die span verduidelik hoe om die veld rondom ‘n karkas te lees, die koeël se trajek te bepaal en hoe om die misdaadtoneel teen kontaminasie te beskerm.
Hy het ook klem gelê op vyf dinge om by ‘n forensiese ondersoek van wildsmisdaad te onthou:
* Die rapportering van weerdata tydens die misdaad sowel as ondersoek is belangrik soos windrigtings en temperatuur
* Toerusting soos messe wat gebruik gaan word soos met die opsny van karkasse moet vooraf gereed gemaak word en ander toerusting moet voorberei word soos kamera’s wat gebruik gaan word
* Die misdaadtoneel moet met merkers voorsien word waar bewysstukke gevind word soos byvoorbeeld patroondoppies
* Die misdaadtoneel se ondersoekspan moet veilig wees in die omgewing van die wildsmisdaad en ‘n gewapende veldwagter moet by veldtonele teenwoordig wees
* Noukeurige waarneming van die toneel moet die ondersoek voorafgaan
* Lees die volledige berig ‘n Dag in die lewe van Juan de Beer eksklusief in die gedrukte weergawe van Laevelder van Vrydag, 18 November.









