Hard newsLocal newsNews

Die klanke gaan grootvoete in hul spore stuit

Bob Preller, olifantkenner en skrywer, se projek om 'n virtuele muur te skep wat olifante sal keer om sekere areas te betree, is goed onderweg.

MBOMBELA – Toe skrywer en voormalige finansiële kenner, Bob Preller, sowat 40 jaar gelede as ereveldwagter baie van sy tyd in die veld spandeer het, moes hy ‘n wees en verlore olifantjie in Letaba-kamp red, versorg en terugneem Skukuza toe.

Die olifantjie het Preller se belangstelling in die grootvoete se welstand geprikkel, wat lewenslange toewyding tot die spesie en grondverskuiwende navorsing rondom olifante tot gevolg gehad het.

“Ek het besef hierdie outjies is soos mense. Hulle is net meer intelligent! Ek weet dit is ‘n aanvegbare stelling, maar ek staan daarby,” sê Preller. “Hulle is net nie soos ons met hande toegerus nie, maar hulle kry wel genoeg met hul slurpe gedoen!”

Tydens die vier jaar wat hy en sy vrou, Annette, tussen olifante in die bosveld gewoon het, het die vuur van binne gekom. Gedurende dié tyd het die geesdriftige oortuiging dat die verhouding tussen mense en olifante verbeter moet word sodat olifante nie uitgewis word nie, Preller aan die peins gekry.

Die uiteinde van die denk- en navorsingsproses was ‘n droom wat nou vinnig gestalte kry.

Hy werk saam met ‘n span navorsers aan die totstandkoming van ‘n virtuele heining van pilare wat deur seismiese golwe en infraklank olifante afskrik.

Sou die trop dus aan die aanstap wees na ‘n boord wat hulle dalk sou verniel, sal die onsigbare klank en seismiese heining hulle in hul spore laat stop.

Preller en sy span is reeds deur die Amerikaanse regering befondsing belowe om so ‘n heining in die Demokratiese Republiek van die Kongo op te rig.bob se boek

Dit was nie ‘n kort of maklike paadjie wat Preller met sy navorsing gestap het nie. Reeds ses jaar gelede was hy besig om ‘n prototipe-pilaar tot stand te bring. Vele veranderings is aangebring. Só het hy uitgevind dat dit infraklank en nie ultraklank is wat olifante sou laat omdraai.

Hy hoop dat ‘n aankondiging oor die finale deurbrake die navorsing volgende jaar in Februarie ‘n realiteit sal maak.

“Navorsing is maar soos om ‘n duisend kilometer te reis. Ons is nou so by die 400km-merk, maar ek is opgewonde dat ons volgende jaar hande met al die rolspelers – soos die Universiteit van die Witwatersrand en die WNNR – sal vat om die projek ‘n finale beslag te gee,” sê Preller.

Hy is tans besig om onder leiding van ‘n seismoloog leeuklanke vir die projek op te neem aangesien die klanke olifante twee keer laat dink voordat hulle verder stap.

“Olifante is bang vir leeus, veral leeus wat aan die baklei is, en ‘n gebrul en ander leeuklanke sal ons met vrug kan gebruik,” verduidelik Preller.

Hy span ook juis olifante in om hom te help om die seismiese beskermingsmuur te ontwerp soos om hul tipiese waarskuwingsroepe op te neem. Hiervoor gebruik hy “geleerde” olifante.

“Dis ‘n groep olifante wat reeds interaksie met mense gehad het en wat graag saamwerk as ons navorsing doen. Wanneer ons klanke moet vaslê sal hulle heel gehoorsaam op versoek trompetter of diep uit hul maag geluide maak, as ons daarvoor vra,” sê Preller.

As hy en sy span in die bos dieselfde van wilde olifante sou vereis, sou dit veel langer verg.

Preller is nie ten gunste daarvan dat mense op olifante se rûe ry of saam met hulle swem nie, maar interaksie wat mense olifante beter laat verstaan en saamwerk om hul te bewaar as spesie, is vir hom aanvaarbaar.

“Hoe meer mense kan leer om olifante te lees en hul ‘taal’ te praat, hoe beter vir die spesie,” meen Preller.

Hy is tans besig met die opdatering van sy verwysingsboek oor olifante wat hy nederig “die enigste van sy soort in die wêreld” noem. The Silent Giants of Southern Africa, including the Desert Giants of the Kaokoveld, is by vele instansies as ‘n voorgeskrewe werk oor Loxodonta africana aanvaar.

Hy verduidelik hoe olifante juis deur hul pote verstaan en “hoor”.

“Hulle is so begaafd dat hulle oor groot afstande deur die grond golwe en klankgolwe kan aanvoel. Hierdie golwe dra dan ‘n boodskap na hul brein oor.”

Dit is lank nog nie die enigste unieke karaktertrek van olifante wat Preller mateloos beïndruk nie.

“Daar is iets spesiaals, iets ongewoons en uniek aan olifante, nie net in hoe hulle gebou is en in hul liggaamstruktuur nie, maar ook in hul gedrag en leefwyse,” beklemtoon hy.

As hy wel een eienskap moet uitsonder, is dit olifante se deernis.

“Een van olifante se mooiste karaktertrekke is hul bykans menslike gevoelens en aksies teenoor hul mede-olifante in hul alledaagse lewe of gedurende tye van stres en verlies wat met siekte, ouderdom of ander probleme gepaard gaan. Ek is seker olifante het goeie herinneringe van mekaar. Ek sal graag wil hê hulle moet ook goeie herinneringe van mense hê.”

* Bob Preller is die spreker by die Laevelder se Pen in my Hand Boekklub byeenkoms op 8 Desember. Die funksiesaal en tyd sal bevestig word. Lees ook Saterdag ‘n uittreksel uit sy boek aanlyn.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button