Hard newsLocal newsNews

Onleesbare kennisgewing en onvoldoende webwerf kelder vleilandplanne

'n Onleesbare kennisgewing wat inwoners uitnooi om deel te naam aan die Bergvlam-vleiland se herstelplan lei tot 'n webwerf waar daar geen inligting beskikbaar is nie. Aktiviste is ontsteld hieroor.

MBOMBELA – Die plaaslike munisipaliteit het ‘n rehabilitasieplan vir die Bergvlam Vleiland in 2010 laat opstel, maar sedertdien was daar geen openbare deelname aan die uitvoering daarvan nie.

Die wanbestuur van die plan het aktiviste wat die vleiland op die hoek van Koraalboomlaan en Kremetartstraat probeer red, nou warm onder die kraag.

Dis nou al ‘n geruime tyd dat dit deur rommelstrooiers, en veral maatskappye bedreig word, wat beweer dat hulle munisipale goedkeuring het om bourommel in ‘n sensitiewe deel van die gebied te stort.

Inwoners in die omgewing voel dat die area as ‘n vleiland bewaar en herstel moet word aangesien die huidige toestand ‘n gesondheids- en brandgevaar inhou. Tydens swaar reën kan die huise aan die eenkant van die vleiland ook ernstig oorstroom word en keerwalle langs huise kan ineenstort.

Keerwalle wat kan ineenstort.
Keerwalle wat kan ineenstort.

Die grootste besware is dat mangate wat in die stroom uitloop, deur rommel toegegooi is en dat die invulling van die vleiland daartoe gelei het dat ongekompakteerde grond nou in ‘n versperring in die vloeistroom vorm.

Eers na openbare druk toegepas is, het die Stad van Mbombela Plaaslike Munisipaliteit (SMPM) ‘n proses van openbare deelname aangekondig om die vleiland te probleem op los. ‘n Kennisgewing om die proses aan die gang te kry is opgerig.

Me. Tercia Joubert, aktivis wat die Bergvlam Vleiland-groep lei, het gister vir vele inwoners van die omgewing gevra hoeveel van hulle die kennisgewing op die paal op die hoek van Koraalboomlaan en Kremetartstraat gesien het.

Joubert het aan hulle uitgewys dat, as gemeenskap en as individue, moet hulle binne ‘n geskrewe tydperk hierop reageer. Besware en vrae moet voorgelê word. Die sluitingsdatum was 22 November.

Op die kennisgewing word onder meer ‘n webwerf aangedui waarop inligting oor die impakstudie en planne om die
vleiland te herstel beskikbaar gestel sou word. Joubert kon egter geen inligting op die webwerf kry nie en het verskeie vrugtelose oproepe na die konsultantmaatskappy gemaak wat deur die SMPM aangestel is om die impakstudie en herstelplan vir die vleiland in werking te stel.DSC01903 (Small)

Lidwala Consulting Engineers is in 2010 aangewys om ‘n rehabilitasieplan vir die vleiland te ontwerp en uitvoering daaraan te gee, sowel as om jaarliks verslag te doen oor die werk wat reeds gedoen is.

Wat Joubert omkrap, is dat die kennisgewing van so ‘n swak gehalte is, dat die e-posadres waarheen navrae gerig kan word, afgereën het. “Die vraag is: hoekom is die versoek om deelname nie by wyse van pamflette in die omgewing versprei nie?” wou sy weet.

In antwoord op vrae van Laevelder rondom die kennisgewing en nie-beskikbaarheid van die impakstudie en plan op die webwerf, het me. Bongi Mhlanga van die publieke verteenwoordigingskantoor van Lidwala Consulting Engineers gesê dat sy tans nie ‘n verduideliking het hoekom die plan en impakstudie nie vir kommentaar op die webwerf beskikbaar is, soos aangedui op die kennisgewing nie.

Sy het ‘n onderneming aan Laevelder gegee dat die datum vir kommentaar deur die gemeenskap uitgestel kan word totdat die plan deeglik onder die loep geneem is en kommentaar daarop ingewag kon word.

“Ons sal nuwe kennisgewings oprig en sorg dat dit onder die gemeenskap se aandag kom,” het Mhlanga gesê.

Die DA-raadslid vir die wyk waarin die probleemarea val, mnr. Kyle Oliver, het onlangs munisipale amptenare van die omgewingsbestuurdepartement, onder meer die bestuurder me. Mandisa Moshawana, na die vleiland se probleemarea geneem en die inwoners se klagtes met hulle bespreek.

DA-raadslid Kyle Oliver help tans om die Bergvlam-vleiland aktiviste se probleme uit te lig en op te los. Hier staan hy saam met Mandisa Moshwana van die Mbombela Munisipaliteit se omgewingsbestuurspan.
DA-raadslid Kyle Oliver saam met Mandisa Moshwana van die Mbombela Munisipaliteit se omgewingsbestuurspan by die probleemarea in die Bergvlam-vleiland.

Daar is verskeie vrae wat die inwoners hom op die hart gedruk het om te vra. Oliver het tydens sy bespreking vele van die wetlike punte rondom die vleiland se verwaarlosing aangeraak.

Sedert sy besoek is daar wel kennisgewingborde opgerig wat enige rommelstrooi verbied. Hy het ook ‘n vergadering met me. Ria Wilken van Lidwala Consulting Engineers gehou om die impakstudie en die uitvoering daarvan, te bespreek.

“My voorneme en plan is dat die herstel van die Bergvlam-vleiland so gou as moontlik ‘n aanvang moet neem. Die aanplant van nuwe bome en struike, sowel as die skoonmaak van die omgewing, is die verantwoordelikheid van die munisipaliteit se parkeafdeling. Die grootste probleem is dat daar steeds rommel deur inwoners gestort word. Dit kos geld om dit te verwyder. Ek wil ‘n beroep op almal maak om op te hou om rommel in die vleiland te strooi. Jy kan ‘n stywe boete opgelê word.”

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button