SANW se steundienste is gevegsgereed en reg vir aksie aan die Oosgrens
DIE SANW se invloed in Mpumalanga is besig om uit te brei. Luitenant-kolonel Coen van Heerden het bevel oorgeneem van die SANW se steundienste in Mpumalanga en sorg dat die eenhede toegerus is vir aksie.
MBOMBELA – Lt.kol. Coen Van Heerden is verlede Vrydag tydens ‘n amptelike seremonie deur kol.Terence Hendricks, namens die bevelvoerende generaal SA Leër Steunformasie, as die bevelvoerder van die Army Support Base (ASB) Mpumalanga ingehuldig.
Hy is reeds sedert November 2015 in dié warm stoel. Die seremonie was ‘n simboliese oorhandiging van bevel.
Van Heerden is gefokus en voorbereid om die eenheid van krag tot krag te laat gaan.
Ten spyte van krimpende militêre begrotings maak sy eenheid voorsiening vir uitbreidings aan verskeie weermageenhede in Mpumalanga wat tans, en ook in die toekoms, gaan plaasvind.
Die Lugafweerskool wat eers in Kimberley gestasioneer was, het reeds 70 manskappe na Ermelo geskuif en
4 SAI op Middelburg is bygevoeg as ‘n ASB Mpumalanga-eenheid.
Die magspeile ontplooi aan die Oosgrens brei uit en Regiment Botha in Barberton is ook besig om te groei.
Waar hy dus eens vir die rantsoene, voertuie en ander steundienste van ‘n groep van 1 000 manskappe verantwoordelik was, neem ASB Mpumalanga nou verantwoordelikheid vir meer as 3 000 voete op die grond.
“Dit verg hoë-intensiteit ondersteuning,” verduidelik hy.
Hiervoor sien die gebore Middelburger en oud-militêre intelligensie- en teenintelligensie-kenner kans.
“Ek het ‘n sterk roeping wat ek wil uitleef. Ek wil diens lewer. Hiervoor is struktuur en dissipline vir my belangrik. Wanneer jy in die weermag dien, moet jy weet die belange van die gemeenskap kom eerste,” sê Van Heerden.
Vir hom is daar prioriteite soos om die bataljons toe te rus wat die Oosgrens met Mosambiek en Swaziland teen insypeling van stropers en onwettige immigrante beskerm en om die manskappe van Operasie Corona se hande te sterk.
“Dit gaan daaroor om gevegsgereed te bly met brandstof, voertuie en rantsoene. Om seker te maak die werkwinkels het die nodige kundiges en al die aankope gedoen is,” sê Van Heerden.
Dit is egter jou vermoë om met mense te werk wat jou ‘n suksesvolle leier maak meen hy.
“Gemotiveerde mense wat bemagtig is om te doen waarvoor hulle opgelei is, maak ‘n verskil. Daarom moet ek sorg dat ‘n tiffie (werktuigkundige) hier by ons ‘n ‘spanner’ kan swaai.”
Die soldaatgogga het hom gebyt toe hy in sy jare by SAPS se narkotikaburo dikwels met weermaglede rondom dwelmsmokkelary-operasies by landsgrense saamgewerk het.
Dis juis samewerking wat Van Heerden glo die invloed van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag in Mpumalanga kan verhoog. Daarvoor glo hy, het hy die regte span.
“My span het my nog nooit teleurgestel nie. Hulle is ‘n klomp ysters wat onder druk steeds hul beste gee.”
Sy strategie met begrotings wat voortdurend gesny word, is om vernuftiger en meer vindingryk as sy voorgangers te werk. Sedert die SANW in die vorige dekade die beskerming van die Oosgrens by SAPS teruggeneem het, het die uitdagings groter geword.
In die Nasionale Krugerwildtuin is daar een manskap om elke twee kilometer te bewaak. Die NKW se grootte word dikwels met die van Israel vergelyk.
“Met antistroping teen ‘n grens moet jy wakker loop.”
Dit is uitdagings waarvoor dié oewer-hengelaar kans sien. Dis juis in Sabie se wêreld, waar hy groot geword het, waar hierdie bobaashengelaar geleer het om stywe lyne te trek.
Dis geen naweek se gevisvang nie. As ernstige sportman neem hy en sy wederhelf, Nerien, gereeld aan hengelkompetisies deel.
Nie dat hierdie nederige man daarmee sal spog nie, maar hy het al ‘n karp van 11,5 kilogram by die Vygeboomdam uitgetrek.
Wanneer hy van die viswaters terugkom, wag sy houtwerk in die motorhuis.
“Hengel en houtwerk maak my rustig en help my om by uitdagings rondom die gemeenskap se belange betrokke te wees,” het hy afgesluit.






