Tien wenke om beter vakansiefoto’s te neem
Herinneringe is kosbaar. Daarom is die neem van vakansiefoto's 'n kuns wat jy voortydig moet bemeester.

MBOMBELA – Die neem van vakansiefoto’s kan ‘n ware uitdaging word omdat vakansietye emosionele tye is en jy die bewaarder van jou eie en ander se herinneringe word. Dit moet met omsigtigheid benader word. Beplanning maak ‘n groot deel van suksesvolle vakansiefoto’s uit.
1. Lees vooraf op oor landskappe waarnatoe jy gaan sodat jy ‘n skoot kan beplan. Plekke byvoorbeeld in Nasionale Kruger Wildtuin om foto’s te neem is Sonsondergangdam naby Laer Sabie, die Engelharddam naby Letaba en die Berg-en-Dal Kamp se omgewing as jy ‘n wildtuinliefhebber is. Besoek webwerwe van die plek waarheen jy gaan en kry ‘n konsep in jou agterkop oor die een beplande foto wat jy wil neem. Dit is noodsaaklik om te weet waarvoor jy op die uitkyk moet wees in terme van lig en weersomstandighede.
2. Vakansiefoto’s is kosbaar omdat dit oomblikke vasvang wat dalk nie weer gaan kom nie. Moenie net een foto van ‘n geleentheid, persoon of plek neem nie, maar sommer ‘n hele paar sodat indien iets verkeerd loop, jy ‘n hele aantal het. Groepeer ook verskillende mense op verskillende plekke sodat die lig soms beter kan wees. Goeie keuses wanneer jy foto’s neem, gee jou opsies wanneer jy dit liasseer op jou rekenaar of laat druk. Neem altyd ‘n horisontale en ‘n vertikale foto.
3. Sorg dat daar iets vakansie-spesifiek op jou foto is wat aandui dit is nie net nog ‘n foto nie, maar ‘n vakansiefoto. Sit ‘n Kershoed op of laat iemand naby ‘n dorp se naambord staan, kleur die konteks in sodat jy onmiddellik kan onthou wanneer en waar die foto geneem is. Neem woorde af of selfs ander foto’s.
4. Vir vakansieselfies is dit nodig dat jy nie die hele foto oorheers nie, maar ook die landskap of geboue agter jou inbring. Onthou om te oefen tot jou ooglyn een derde van die bokant van die raam is asook dat jy nie reg in die middel staan nie. As jy dalk te vakansievrolik is na ‘n skemerkelkie op die strand, sorg dat jy jou selfoon met albei hande vashou sodat jy nie bewe nie. Die manier van neem plaas jou ook meer sentraal. Sentreer die selfoon se kamera-oog met jou neus en jy kry beter plasing binne die fotoraam.
5. Kry die mense wat jy afneem om met iets vakansierig soos ‘n nuwe sonbril, speelding soos ‘n bal of dalk selfs ‘n nuwe haarstyl, te poseer of neem hulle af waar hulle iets interessant doen soos om ‘n bootjie uit te neem om te gaan roei. As dit oor ‘n voorliefde gaan soos boeke of ‘n stokperdjie, neem hulle daarby af.
6. Laag op laag foto’s werk soos om byvoorbeeld ‘n geskenk in die voorgrond aan die kant van die foto te hê met ‘n Kersboom sag in die agtergrond of om iemand in die voorgrond te laat sit teen ‘n tipiese landskap van die vakansie.
7. Neem ‘n foto met perspektief soos om ‘n pad as deel van jou foto te wys as jy op ‘n lang padreis was sodat jy die pad kan onthou en weet dat dit deel van die reis was.
8. Sorg dat jy detail kliek van die spesiale oomblikke of kosbaarhede wat jy op jou vakansie teëgekom het en dalk nie weer sal raakloop nie soos ‘n spesiale blom op ‘n tafel waar julle geëet het.
9. Op helder dae, as jy landskappe of diere moet afneem, is die beste tyd die eerste twee ure na sonsopkoms en die laaste twee ure voor sonsondergang. Op bewolkte dae moet jy liewers so van die middel van die oggend tot middel van die middag skiet.
10. Neem altyd twee kameras saam indien jy enigsins kan, ekstra batterye en skoon kamerakaarte. Sorg dat jou laaier ingepak is en stel selfs ‘n selfoonalarm om jou kamera te laai. Onthou die tweepuntprop! Maak seker jou lens is versorg en jou kamera skoon. Veral in stowwerige plekke soos die wildtuin hou die lens beskerm en dra jou kamera in jou sak vir beskerming. Wees te alle tye lugtig vir kameradiewe. Maak seker jou versekering dek spesifiek jou kamera. Neem’n foto daarvan met jou selfoon sowel as van die reeksnommer en versend na jou epos en die versekering.









