Hard newsLocal newsNews

Renosterwesies vind ‘n nuwe gesin

As jy eerstehands ervaar hoe gou 'n renosterwesie 'n tweeliter bottel renostermelk kan kafdraf, sal jy ook hand in die sak steek om so 'n bottel of drie onder hul Kersboom te plaas.

MBOMBELA – Wat wag vanjaar onder die “Kersboom” vir die renosterwesies by die Care for Wild (CFW) Renoster Toevlugsentrum?

Vir die wat nog nie gespeen is nie, beslis bottels en bottels melk – soveel as 16 liters per dag!

Vir die eienaar van die renosterweeshuis, Petronel Nieuwoudt, sluit hierdie spesiale geskenkpakkie ook baie versorging en aandag in.

“Geen dier of mens moet op Kersfees alleen wees nie. Die outjies hier by ons verdien dat die rooi tapyt vir hulle uitgerol word. Hulle mag dalk hul ma’s deur stroping en hul trop verloor het, maar ons is nou hulle gesin.”

Wat Petronel, die personeel en haar span vrywilligers se harte die blyste maak is dat die onlangse aankomelinge gesond en aan die herstel is.

“Dis goed om die renostergesin bymekaar te sien – lekker aan die vreet en nie gestres nie. Om hulle ‘n modderbad te sien neem, is die ware geskenk! Dis ook vir ons ‘n seën – as ‘n span – dat ons hande vat en saamwerk.”

Sedert November het vier nuwe wesies in die kampe en boma’s sowel as in die hoësorg-dierekliniek ‘n tuiste kom vind nadat hul ma’s gestroop is.

Die ouer renosters speel maklik ouboet en ousus vir die jongeres.

Hierdie keer het ouboet Zac ingestaan. Hy is reeds sedert laat Julie daar, nadat sy ma in die suide van die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) gestroop is. Zac was eens nogals geneig om die span snags wakker te hou om sy bottel in die hande te kry. Hy verstaan die nuwe kleinspan.

Sy nuwe maatjie, Jemu, het geen leiding nodig gehad met hoe gras heeldag gevreet moet word nie.

Sy is vernoem na die Jock Environmental Monitoring Unit wat haar verlore en verdwaas gevind het in die Groter NKW en dadelik vir Don English, die NKW-streeksveldwagter, laatweet het. Binne 30 minute was ‘n helikopter op pad. Nadat sy met ‘n pyl verdoof is, is sy na CFW per helikopter geneem.

Die ses maande oue renoster het binne vyf ure begin bottel drink.

Renosterwesies oorleef selde meer as ‘n dag sonder hul ma’s as gevolg van hiënas en leeus wat toeslaan as ook oorlewingstres.

Die derde, Grey, is nou weer deur lede van die publiek gevind, naby Pretoriuskop. As gevolg van gure weersomstandighede, is hy per pad in ‘n krat vervoer. Hy was lank op ‘n drip. Daar was groot vreugde in die klein kamp toe hy na ‘n dag by Zac en Jemu aangesluit het.

Spirit is naby die grens van die NKW gevind. Sy het in dik modder gelê en was baie swak, dr. Ferreira du Plessis het haar te hulp gesnel. Na haar herstel in die renosterhospitaal by CFW, het sy by die ander drie aangesluit.

Dit was duidelik dat die renostergesinslede mekaar se geselskap geniet het en dit vertroostend gevind.

Menslike interaksie by CFW met die renosters word tot die minimum beperk. Buiten voedingstye en wanneer wondversorging of spesiale behandeling benodig word, word die renosters aan mekaar en aan hulself oorgelaat sodat hul eerder op mekaar as op mense aangewese kan wees.

Daar is egter monitors en gewapende veldwagters deurentyd aan diens. Asook ‘n honde en berede eenheid.

Die jongste aankomeling is ‘n nege maande oue vroulike kalfie, Sibevu, wat laat November nege dae in die veld duskant Ngodwana op ‘n privaat reservaat rondgedwaal het na haar ma deur stropers met ‘n kopskoot neergevel is. Spoorsnyers het haar spoor gevind, maar sy as gevolg van die digte bosse kon sy eers na agt dae deur drs Albertus Coetzee en Ferreira du Plessis uit die veld gered en na CFW geneem word.

“Sy is ons jongste baba. Haar wonde word elke derde dag versorg. Sy het as gevolg van die trauma ‘n vrees vir harde stemme. Ons werk maar saggies en met baie geduld en liefde met haar in die spesiale-eenheid,” sê Nieuwoudt.

Sy verwys dikwels na die “stil verstandhouding” wat tussen die renostertjies bestaan wanneer hulle saam in die boma’s is. Hier kan hulle met stompe speel, in die modder rondrol en mekaar speels karnuffel.

“Dit was nie ‘n maklike jaar selfs in die veld vir die koeie en kalfies toe hulle nog saam was nie. Die kwaliteit van die gras was nie baie voedsaam nie as gevolg van die droogte.

“Die outjies wat ons moes red was dikwels ondervoed na die harde winter en in ‘n swak kondisie.

Voeg daarby al die trauma waardeur hulle is, en jy het ‘n lang pad om te stap tot waar hulle vrolik en gesond in die son met die ander kan baljaar en sommer net pure renoster kan wees.

Maar vanjaar gaan dit vir hierdie spannetjie met Zac as Ouboet ‘n goeie Kersfees wees.”

* Sien hoe ‘n renosterwesie deur mond-tot-bek asemhaling gered is

 

• As jy wil bydra tot kos vir die renosterwesies besoek https://careforwild.co.za/donate/.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button