Hard newsLocal newsNews

Dorpsklagtes oor Siembamba-rolprentspan geen riller nie

Die idilliese dorpie Kaapsehoop is in tweespalt geskeur oor inwoners wat eiertjies te lê het oor die optrede van die span van die rillerrolprent, Siembamba.

KAAPSEHOOP – Inwoners van die dorp en lede van die informele dorpskomitee is ongelukkig met die rolprentmakers, Phoenix Films, wat onlangs die riller Siembamba daar verfilm het. Dit blyk egter dat hul ontevredenheid onbenullig en ongegrond is.

Laevelder het met Phoenix se eienaar en regisseur mnr. Simon Frauenstein, gesels.

“Ons het ‘n lys van die gastehuise op die dorp van ‘n inwoner gekry wat ons gehelp het om die logistiek te koördineer. Ons het niemand probeer bevoordeel nie. Ons het byvoorbeeld stiller gastehuise gekies vir ons hoofspelers wat op die memorisering moes konsentreer,” verduidelik Frauenstein.

Hy benadruk dat die nodige toestemming vir die gebruik van hommeltuie by SAPPI en SAFCOC verkry is, en dat die betalings gedoen is.

Oor die klagte van ‘n lig wat glo steurend by ‘n inwoner se venster ingeskyn het, sê Frauenstein dat dit juis verduister is om ‘n meer spookagtige atmosfeer te skep.

“Ons is nogtans spyt as daar enige ongerief was. Dit was vir ons net ‘n plesier om op Kaapsehoop te vertoef en die rolprent daar te skiet.”

Frauenstein het gesê dat die wêreldwye vrystelling op 1 September die dorpie wye blootstelling sal gee en positief vir toerisme sal wees. Die maatskappy het uit sy pad gegaan om inwoners in te lig. Daar was byvoorbeeld betyds oor nagverfilming in Watkinsstraat op die Kaapsehoop Notice Board, ‘n Whatsapp-groep, kennisgewings geplaas.

Mnr. Jan Henning, ‘n inwoner van die dorpie, sê hy is teleurgesteld in dorpenaars wat die filmmaatskappy met beuselagtige klagtes lastig geval het.

“Ons kan nie van iets so positief iets negatiefs maak nie. Hierdie mense was uiters beleefd en bedagsaam. Hulle verblyf het ons dorpie net goed gedoen.”

Hy het gevind dat niemand wat aan die maatskappy verbonde was, die inwoners verontrief het nie.

“Regtig, die klagtes was onvanpas en ongevraagd. Kaapsehoop het nie ‘n formele komitee wat gebeure moet goed- of afkeur nie. Niemand het ‘n mandaat om so op te tree nie.”

Mnr. Ian Moran wat van die klagtes aan Phoenix se adres gerig het, het aan Laevelder gesê hy wil geen kommentaar daarop lewer nie.

Mnr. Peter Legg, dorpskomiteelid, wou ook nie. Hy wou ook nie reageer op die bewerings dat daar tweespalt in Kaapsehoop daaroor is nie. Hy het wel toegegee dat daar geen formele wetlike strukture vir die bestuur van die dorpie bestaan nie, slegs ‘n eienaarsvereniging.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button