Kwadrupleeg motiveer vroue om voluit te leef
Die tragiese dog inspirerende verhaal van kwadrupleeg Tracy Todd het vroue van Komatipoort in trane gehad en gemotiveer om voluit te lewe.
KOMATIPOORT – ‘n Oggend saam met Tracy Todd, bekende motiveringspreker en kwadrupleeg, laat niemand onaangeraak nie. Dit is lewensveranderend. Dit bring jou by ‘n kruispad, dwing jou om keuses te maak – keuses om voluit te lewe, mense om jou te waardeer, om meer dankbaar te wees.
Mariana Maree het namens die Gateway Gemeenskapskerk se dames Saterdagoggend se suksesvolle geleentheid by Kambaku Gholfklub gereël en sowat 60 vroue van die omgewing het dit bygewoon.
LEES: Vroue leer om hul lewensvreugde uit te leef
Twee plaaslike sangers, Marian du Plessis en Sanet van Greunen, het die ontbytgangers bemoedig en vermaak, terwyl Catherine van Vuuren gedans het.

Sanet van Niekerk het die verrigtinge met ‘n kort, positiewe boodskap geopen.
Todd het ‘n video met foto’s vertoon van die twee verskillende lewens wat sy gelei het, voor en na die tragiese ongeluk tydens Paasnaweek op 13 April 1998 alles verander het.
Dit was stil terwyl die dames gekyk het hoe foto’s van ‘n sorgelose dogtertjie, Laeveld-gimnas, talentvolle atleet, avonturis en kranige student, pragtige vrou, gelukkig getroud met ‘n aantreklike man, moeder van ‘n babaseuntjie op die skerm verskyn. In die agtergrond het die liedjie “Do you know where you’re going to?” gespeel.
READ: Mother and son of local family bedridden after terrifying accident
Uit die hoek van die oog, kon jy merk dat sy ook die mooi herinneringe geniet.
Na haar ongeluk was sy heeltemal van ander mense afhanklik. Sy het vertel hoe haar man, nadat dit duidelik geword het dat haar toestand nie gaan verander nie, haar gedagvaar het vir ‘n egskeiding en toesig vir hul babaseun. Sy het alles verloor en was in ‘n put.
Todd was altyd ‘n adrenalien-junkie en het ingestem toe ‘n vreemdeling haar nooi om saam met hom in ‘n mikrovliegtuig te vlieg.
Tydens ‘n rit in ‘n mikrovliegtuig het sy elke oomblik van God se pragtige skepping ingeneem. Sy het vry gevoel en vir die eerste keer sedert die tragedie gelag.
Sy het gedink: “Hoe kan ek die lewe steeds geniet?” Dit was ‘n keerpunt in haar lewe.
By die huis het haar rolstoel op haar gewag. Sy het besef dat dit juis die middel tot haar vryheid en onafhanklikheid is. Sy het besef hoe bevoorreg sy is om so ‘n spesiale rystoel te kan besit. Soveel mense in dieselfde situasie is noodgedwonge in hul omstadighede vasgekluister en word in ‘n kruiwa of selfgemaakte voertuig rondgestoot.
LEES: Marlothpark-storieverteller publiseer sy derde boek
Sy het besluit om ‘n boek te skryf om ander mense bewus te maak van die broosheid van die lewe en om haar seun eendag te laat besef hoe lief sy hom gehad het.
Sy reis sedertdien rond om haar storie met ander te deel en bemoedig mense om ‘n vol lewe te lei ongeag hul omstandighede.
Tracy het vertel dat sy nou op 48 jarige leeftyd so gegroei het dat sy meer heel as ooit tevore voel. “God was altyd saam met my. Sonder Hom sou ek dit nooit kon doen nie.”
Sy was beskore om na 18 jaar weer met die nuwe liefde in haar lewe, Roy Heine in die huwelik te tree en het boonop nog twee pragtige seuns bygekry.
Tracy het ook haar boek Brave Lotus Flower Rides the Dragon by die geleentheid aan dames bekendgestel. Belangstellendes kan haar by todd@soft.co.za of 072-298-0558 kontak.
