Local newsNews

‘n Boksprong tot in die kake van honger leeus

Video: Kyk hier hoe honger leeus 'n bokkie voor besoekers se oë verslind in die Krugerwildtuin.

SKUKUZA – Min kon Hannes Beeslaar, ‘n plaaslike onderwyser, en sy dogtertjie weet dat ‘n skouspel van honger leeus wat ‘n bokkie voor hul oë verslind, op hulle wag toe hulle vroeër vanjaar uit verveeldheid vir ‘n dag Krugerwildtuin toe gery het.
Hannes vertel dat ‘n troppie leeus tussen Skukuza en Onder Sabie uit die bosse verskyn en vir sowat vyf kilometer padlangs voor hulle uit gestap het. Twee wyfies het later in die veld verdwyn, terwyl drie ander en ‘n welpie steeds padlangs gehou het.
Die volgende oomblik het ‘n bok, vermoedelik deur die twee wyfies gejaag, uit die bosse gespring en hom reg in die ander vasgehardloop.
Die wyfies, wat doodluiters gestap het, het blitsvinnig reageer. Binne oomblikke was almal gulsig aan die smul, met die welpie wat sy bes gedoen het om ook sý deeltjie te bekom.
Dié partytjie is egter na enkele minute kortgeknip toe die maanhaar ook op die toneel verskyn en sy pond vleis geëis het. Hannes sê dat hy daarna verder gery het, maar hy vermoed dat die hele petalje na sowat 15 minute verby sou wees. Van die bokkie kon daar skaars ‘n kriesel oorbly.

Tuis het Hannes sy video op die Wild Africa forum (www.sagr.co.za) gedeel en was hy heimlik dankbaar dat sy vrou dáárdie dag moes werk en hy en sy dogter besluit het om hul ledige tyd in die wildtuin te gaan deurbring.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button