Local newsNews

Daar’s ‘n Engel in my Koskas soveel meer as ‘n kookboek

Met die voorwoord van Willie Strauss se kookboek Daar's 'n Engel in My Koskas laat hy jou sommer reeds tuis voel - so asof hy self jou na 'n feesmaal genooi het.

MBOMBELA – Soos met enige goeie onthaal begin dié boek met ‘n ligte staaltjie oor waar sy liefde vir kos, musiek en ‘n mengsel van die twee ontstaan het.

“As ‘n klein seuntjie op ons plaas Vyfbeker in die Kenhardtdistrik het ek my ma grootoog dopgehou wanneer sy kosmaak. Op ‘n skaapplaas was die kombuis nie juis die plek waar ‘n seun sou rondstaan nie, maar ek het skelm aanhou loer asof ek toe al geweet het engele skuil in die onwaarskynlikste plekke – ook in die koskaste van Vyfbeker se kombuis.”

LEES OOK: Dit kook wanneer hierdie musiekmaker sing

Daarna bedien hy die heerlikste disse. Een na die ander, elk met ‘n unieke naam. Van vleisdisse onder opskrifte soos “Mak soos ‘n lam”, “Res-pek-tabel” en “Jy kan nie met hoendervlerke vlieg nie”, tot nageregte wat lui: “Haai, jy mousse nie” en “Maar jy lyk soos ‘n tert, Engel!”

Een afdeling in die boek is net aan ontbytdisse gewy terwyl ‘n ander op kosse vir partytjies fokus “want wat is dan lekkerder as ‘n tipiese garageparty?”

In elke afdeling leer hy jou op ‘n nuwe manier na tradisionele kosse kyk wat ons al vir jare kook, byvoorbeeld die tradisionele skaapboud wat hy met droeëvrugte voorberei of die sagomeringuepoeding met vyekonfyt.

Tussen die geskryf deur kan ‘n mens se oë ook smul aan die glansfoto’s wat in die boek pryk en laat dit jou mond water.

ALSO READ: ‘n Engel kom gesels, sing by Pen in my Hand

Dié kookboek is soveel meer as net dit: Dit is ‘n tikkie nostalgie as die verlange te veel raak. Dit is lekker leesstaaltjies laatmiddag op die bank as die potte reeds prut. Dit is ‘n uitstalstuk op jou koffietafel wat selfs mooier vertoon saam met ‘n heerlike stuk koek.

Soos Strauss dit stel: “Ek hoop die engele speel saam met jou in jou kombuis.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button