Die hardste leerskool – ‘n alkoholis se verhaal
Hy het juis die boek geskryf sodat ander uit sy foute kan leer.

WITRIVIER – Jan Fonternel weet wat drank aan ‘n mens doen, want hy het self in die gutters gaan draai.
Só sê hy oor die boek wat hy onlangs gepubliseer het.
Wynskool is glad nie ‘n outobiografie nie, maar hy het natuurlik van sy eie ervaringe gebruik in die verhaal van die fiktiewe Piet Gouws.
Hy het juis die boek geskryf sodat ander uit sy foute kan leer. “Alkohol het oor jare heen al meer menselewens geëis as die twee wêreldoorloë,” sê hy en bely dat dit uiteindelik hoofsaaklik sy vrees was om as armlastige in ‘n park dood te gaan, wat hom tot nugterheid gedwing het.
Op 42 het hy toe, met die hulp van familie en goeie vriende die lang pad na soberheid aangepak. Sy vrou Erica (hulle is nou 25 jaar getroud) het hom heeltyd bygestaan. “Ek het geweet hy drink mos nie omdat dit vir hom lekker was nie!” sê sy oor haar troue ondersteuning deur die tye in rehabilitasiesentrums en alles wat daarmee saamgegaan het.
Hy is nou al amper ses jaar heeltemal skoon en die boek het maar so deur die jare vorm aangeneem. ‘n Boek nogal, nadat ‘n destydse laerskoolonderwyser hom eendag verskriklik oor ‘n opstel uitgetrap het en hom aangeraai het om dit liewers weg te gooi.
Haar waarneming dat hy ‘n vrotsige skrywer sou uitmaak, het toe net mooi die teenoorgestelde uitwerking gehad…
Jan is ‘n pensioenaris en hy en Erica woon in Witrivier. Hulle is versot op die Laeveldse natuur en bring ook soveel moontlik tyd in die Nasionale Krugerwildtuin deur.
Hy het Wynskool nie soseer gepubliseer om geld daaruit te maak nie, maar die bedoeling was dat dit vir ander as leerskool sou dien. Hy vertel dat sy broer besig is om die boek ook in Engels te vertaal en daarop aandring dat hy nog een moet skryf, maar hy is nie so seker dat hy dit sal doen nie. “Ek wou bloot aan mense toon dat dit nie net ‘slegte mense in parke is nie’ en hoe swaar sulke mense werklik kry.”
Wynskool vertel Piet Gouws se storie: Die vermoënde en aantreklike man afkomstig uit ‘n vooraanstaande familie, maar met die geneigdheid tot alkoholisme. Met dié gesiglose monster as reisgenoot, ontmoet hy heelwat karakters op sy lewensreis.
Sommige verryk en andere versuur sy lewe en deurentyd ervaar hy daardie stryd om oorlewing. As toeskouer en enkeling vertel hy ‘n verhaal wat mense mag boei en beter laat verstaan watter hel alkoholiste elke dag belewe.
Die boek kan by Erica by 071-850-0758 bestel word.
