Joubert en Seuns-boer herstel goed na ernstige ongeluk
Hy is Saterdag ernstig beseer toe hy na bewering beheer oor sy bakkie verloor het.

‘n Welbekende Laevelder en boer by Joubert en Seuns, Francois Joubert jnr. is die afgelope naweek ernstig beseer toe hy vermoedelik beheer oor sy bakkie verloor het. Francois is die mede-eienaar van dié familieplaas, Kobus, se seun.
Die ongeluk het omstreeks 22:00 Saterdag op die R539 (Schoemanskloof-pad) plaasgevind. Hoewel die presiese omstandighede rondom die insident nog nie bekend is nie, het Francois se ma, Mariëtte laat weet dat sy toestand besig is om te verbeter.
LEES OOK: Man seriously injured in accident on Schoemanskloof Road
“Hy is per helikopter met ernstige kop- en borsbeserings na Netcare Milpark vervoer, waar hy tans in die trauma-eenheid herstel,” het sy gesê. Mariëtte het bygevoeg dat die dokters baie tevrede is met sy vordering en dat hy tans stabiel is.
Volgens Netcare 911 se woordvoerder, Shawn Herbst, moes die brandweer Francois met meganiese kake uit die wrak sny. “Hy het vermoedelik beheer oor sy bakkie verloor, waarna dit gerol het,” het hy gesê.
“Kringtelevisiebeeldmateriaal het egter later getoon dat ‘n tweede voertuig vermoedelik betrokke was. Die polisie ondersoek tans die saak,” het Mariëtte gesê.
