Laerskool Laeveld bemarker heet Mbombela totsiens
Na 18 jaar van ongekende en onmeetbare waardetoevoeging tot Laerskool Laeveld, sprei bemarker Sonja Holtzhausen en haar gesin binnekort hul vlerke na die Wes-Kaap.

As jong bemarker het sy die skoolgronde betree. Nie net het sy haar werk met erns en trots gedoen nie, maar ook met passie. Haar keurigheid, takt, wysheid en vasberadenheid het haar sukses weerspieël en haar geestelike gehoorsaamheid was ‘n inspirasie vir talle Laevelders.
Die skool skryf: “Sy het so gelewe en so gewerk, dat elke mens wat sy teëgekom het iets konkreet kon laat groei wat hulle sal inspireer om die mens te word wat God wil hê hy/sy moet word.
Haar professionaliteit en bekwaamheid het die beeld van die skool in die gemeenskap en sakewêreld positief uitgebeeld. “Haar geheim tot sukses is haar entoesiame en opwinding.
Omdat sy so begeesterd geraak het oor haar pligte, het sy soveel vermag. Haar entoesiasme het sterre in mense se oë gelaat en veerkrag in hul tred gesit.
Geesdrif en trots was die dinamika agter haar vooruitgang. “Laerskool Laeveld eer jou vir jou harde werk, sukses en toegeweiding. Dankie dat jy ons die beginsel van sukses geleer het: om in jou saak te glo en trots te wees op elke opdrag wat jy voltooi het.
LEES OOK: Hoërskool Rob Ferreira vereer beste akademiese leerders
“Ons wens vir haar is net vrede, vreugde, liefde, genade en tonne sukses met haar toekoms en nuwe loopbaan. Mag sy en haar gesin net seën ontvang. Laerskool Laeveld se beste wense vergesel haar.
Hebreërs 10:35: ‘Julle geloofsvetroue moet julle nie prysgee nie: dit hou groot beloning in’, het die skool gesê. Holtzhausen het ‘n bemarkerspos by Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal aanvaar.
