Local newsNews

Wees voorbereid wanneer swaar weer en vloede dreig

In reaksie op die tropiese sikloon Eloise wat gedeeltes van Suid-Afrika en Mosambiek skade aangerig het, het die burgerregteorganisasie AfriForum enkele riglyne saamgestel wat gemeenskappe kan gebruik om voorbereid te wees.

Volgens Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof vir die noordstreek, moet gemeenskappe saamstaan om hulle veiligheid te verseker.

“Ons gemeenskappe moet handevat en ook verantwoordelikheid neem om hulle paraatheid te verhoog. Dis belangrik om voorsorgmaatreëls deurlopend in plek te hê sodat ’n mens noodgevalle en rampe so goed moontlik kan bestuur. AfriForum se buurtwagte in die noordstreek is ook gereed om gemeenskappe in tye van nood by te staan.”

Volgens Coetzer is die volgende voorsorgmaatreëls en riglyne veral belangrik in die lig van die weertoestande wat Suid-Afrikaners ondervind het en steeds in sekere dele van die land beleef.

LEES OOK: AfriForum-buurtwagte verleen hulp tydens swaar reën

Voorsorgmaatreëls:

1. Wees ingelig. Wees bewus van die risiko’s wat die weer inhou; vind uit hoe die reën, wind en water die gebied waar jy woon gaan beïnvloed sodat jy kan beplan.
2. Stel ’n noodplan saam. Maak seker dat almal in jou huishouding weet wat die plan is en dat die plan êrens in die huis sigbaar is. Skakel ook by jou plaaslike rampbestuur- en buurtwaggroepe in.
3. Weet waarheen jy kan ontruim. Volg die ontruimingsinstruksies van die owerhede en buurtwagte. Weens Covid-19-regulasies kan openbare gebiede waarheen jy kan gaan vinnig volle kapasiteit bereik. Identifiseer ’n veilige addisionele perseel om na te ontruim. Onthou om genoeg gesigmaskers en handontsmetter saam te neem.
4. Addisionele voorsorg vir persone met gestremdhede. Reken ekstra tyd by jou plan in om seker te maak almal het die nodige hulp om veilig en gemaklik te ontruim.
5. Herken waarskuwingstekens. Maak seker dat jy weet hoe om waarskuwingstekens te identifiseer en waarvoor jy moet uitkyk.
6. Hersien belangrike dokumentasie. Maak seker dat al jou persoonlike dokumente in ’n waterdigte lêer of digitaal gestoor word, en dat jou versekering op datum is.
7. Versterk die struktuur en veiligheid van jou huis. Maak dreine en geute skoon. Stoor tuinmeubels in die huis of motorhuis.
8. Wees tegnologies voorbereid. Maak seker dat jou selfone en tweerigtingradio’s se batterye gelaai is. Hou rugsteunbatterye byderhand vir addisionele krag.
9. Help jou bure. Bied hulp aan jou bure en bejaardes in jou omgewing om voor te berei vir swaar weer.
10. Kry jou voorraad gereed. Kry alle medikasie, ontsmettingsmiddels, troeteldierkos en genoeg kos, water en klere vooraf gereed. Hou dit in ’n grypsak in jou voertuig.

LEES OOK: Dié knapie verskyn eersdaags op die kassie

Riglyne vir veiligheid tydens swaar weer en moontlike vloede:

1. Hantering van die weer: Stel vas wat die beste manier is om jouself teen die sterk winde en vloede te beskerm. Skuil by ’n versamelpunt of in ’n kamer in jou huis. Wanneer jy in ’n gebou vasgekeer is, beweeg na die hoogste vloer/vertrek. Moenie in vloedwater stap, swem of bestuur nie. Draai om en vind ’n alternatiewe roete. Bly weg van brûe en vinnig bewegende water af.
2. Bly te alle tye ingelig. Bly op hoogte van verwikkelings rakende die weerstoestande deur betroubare mediaberigte en -uitsendings dop te hou en by jou naaste buurtwag se kommunikasiegroep aan te sluit.
3. Persoonlike veiligheid: Hou by die Covid-19-regulasies indien jy jou huis moet verlaat om na ’n versamelpunt te ontruim. Kontak die owerhede of buurtwag indien jy siek is of mediese behandeling benodig. Gebruik kragopwekkers buite die gebou en weg van vensters af.

LEES OOK: Vrou ontsnap inbrekers en ontbied nooddienste

Riglyne ná afloop van ’n vloed of swaar weer:

1. Luister na die plaaslike owerhede en buurtwagte vir inligting of enige ander instruksies.
2. Wees versigtig tydens die skoonmaak-aksie. Geen kinders moet daaraan deelneem nie. Stel ’n skoonmaak-aksieplan saam.
3. Dra beskermende klere en werk twee-twee saam.
4. Moenie aan enige elektriese toerusting of drade raak voordat dit nie veilig is nie. Onthou dat elektriese kabels ook onder water kan wees en dat die elektrisiteit deur die water gelei kan word.
5. Moenie onnodig tydens ’n noodsituasie bel nie. Telefoonstelsels of -netwerke kan moontlik af of besig wees. Gebruik teksboodskappe of sosiale media om met jou vriende of familie te kommunikeer. Stel vir jou ’n kommunikasieplan saam.
6. Dokumenteer jou eiendomskade deur middel van foto’s en stel jou versekering in kennis van die skade.
7. Praat met iemand oor enige angstigheid of spanning wat jy moontlik ervaar.

“AfriForum doen ’n beroep op elke lid van die gemeenskap om verantwoordelikheid vir hulle veiligheid te aanvaar en te verseker dat die bogenoemde riglyne in plek is,” sluit Coetzer af.

LEES OOK: Uit die hart van ‘n goeie vriend

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button