Local newsUpdate

Willem Janson van Witrivier onthou as ’n wildevy vir sy gemeenskap

Enesta Janson vertel hoe haar man, Willem, sy geliefdes die afgelope maande stil-stil gegroet het. Hy word onthou vir sy vrygewigheid teenoor honderde in die Laeveld.

Die wildevyboom word gekenmerk deur sy massiewe grootte, sy skaduwee en sy vrygewigheid.

Naby die bekende “trouklip” op die Lowlands-plaas, onder ‘n wildevy met ‘n onbelemmerde uitsig oor die Laeveld, het een van die gemeenskap se groot bome, Willem Janson (78), Woensdagmiddag sy aardse bestaan gegroet.

Dis hier waar sy vrou, Enesta, hom 15:30 gekry het toe sy en ‘n groep mense na Willlem gaan soek het.

Ook hulle, soos baie ander paartjies, het op 30 November 1996 by die bekende klip trou aan mekaar beloof.

Willem het in 1999 die Bundu Wildlife Estate begin ontwikkel en die egpaar het ook hier gewoon.

Enesta se instink het dadelik ingetree toe sy net ná 13:00 ‘n boodskap van Willem kry met die woorde: “Ek is baie lief vir jou – vir altyd.” Dit is opgevolg met ‘n pragtige video met die titel, “Dankie, Vader”.

Sy en haar suster, Anada, wat vir rukkie by hul gekuier het, was by Casterbridge-inkopiesentrum en het onmiddellik geweet hulle moes terugjaag huis toe.

In ‘n openhartige onderhoud met Laevelder, het sy gesê dat Willem die laaste paar maande ‘n diep verhouding met die Here ontwikkel het.

“Daar is ‘n Bybel in byna elke vertrek in ons huis. Hy sou sit en lees en dan van die verse met my bespreek. Ander tye sou hy ure alleen op die plaas spandeer en bid. As ek terugkyk, besef ek dat hy my voorberei het om alleen vorentoe te gaan. Hy het veral die afgelope drie maande ál hoe meer verantwoordelikhede op my geplaas en was baie gefokus daarop dat ek alles oor die plaas, finansies en ons sake moes weet. Ek het self spottenderwys soms vir hom gesê: ‘Janson, moet ek nou alles doen?’ Hy het een aand na my gedraai en vir my gesê: ‘Jy is tough. Ek het nooit geweet hoe tough jy regtig is nie’.”

Die wildevyeboom is ‘n simbool van onbaatsugtige vrygewigheid.

Dit was deel van Willem se lewensverhaal.

Hy het gedeel wat hy gehad het en ‘n lang en diep verhouding met sy werkers, vriende en naastes gekoester.

Die meer as 100 kinders wat Janson-hulle daagliks in die nabygeleë Msholozi gevoed het, die menige kliënt wat hy as praktiserende prokureur pro bono gehelp het en die verskeie organisasies, asook sy kerk, wat hy altyd bygestaan het, kan getuig van sy karakter.

Enesta het begin agterkom dat Willem emosioneel swaarkry en het sy familie en vriende gevra om laer te trek.

“Ek het my suster met ‘n meestersgraad in sielkunde gevra om by ons te kom kuier.

Enesta en Willem Janson se laaste foto saam wat vroeër dié maand geneem is. Foto: Verskaf
Enesta en Willem Janson se laaste foto saam wat vroeër dié maand geneem is. > Foto: Verskaf

Sy en Willem het lang gesprekke gevoer en sy moes Dinsdag huis toe gaan. Hy het haar mooi gevra om tot Saterdag (vandag) te bly. Hy het geweet ek gaan haar nodig hê.

Die druk en teleurstelling van die afgelope agt jaar se hofstryd het Willem ingehaal. “Hy het ‘n ruk gelede vir my gesê hy gaan nie leef om geregtigheid te sien nie”, vertel Enesta.

“Hy was lewensmoeg, maar hy het dit baie goed weggesteek.”

Ná die gebeure van Woensdag sê Enesta dat goed nou sin maak.

“Hy het in die laaste paar maande baie van sy skool-, universiteits- en ander vriende gebel om te hoor hoe dit gaan. Ek dink dit was ‘n laaste groet aan elkeen.”

Sy vertel hy was gedrewe om te sorg dat hulle verhouding met bure en vriende gesond is en het soms vir haar gesê as sy hulp nodig het, is daar baie mense wat haar sal help.

Haar foon het ná sy afsterwe nog nie ophou lui nie en honderde boodskappe, ook inskrywings op sosiale media, benadruk hoe geliefd Willem was.

“Die ondersteuning van mense wat bel, van oraloor, beteken soveel in hierdie tyd.”

Sy sluk swaar aan die trane as sy vertel dat hy onlangs vir haar gesê het sy moet altyd lief wees vir sy kinders en kleinkinders.

“Ek gaan hom so mis.”

Daar onder die wildevyboom is die sirkel van sy lewe voltooi in die swygende teenwoordigheid van die Laeveldse natuur wat hy so gekoester het.

Willem laat sy vrou, drie kinders en ses kleinkinders agter.

‘n Gedenkdiens vind Vrydag, 2 Oktober, om 10:00 in die Nederduits Hervormde Kerk in Witrivier plaas.

LEES OOK: Former White River lawyer and businessman Willem Janson dies

LEES OOK: Mpumalanga High Court dismisses eBundu Lodge owner’s appeal over fraud case

LEES OOK: eBundu Lodge owner appeals fraud conviction

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Irma Green

Irma is Group Editor: Caxton Local Media and an award winning journalist who specialises in investigative reporting. She has been in local media journalism for 33 years.
Back to top button