Ikoniese restaurateur en hotelier van die Laeveld sterf
Jörn is as ’t ware ’n pionier wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie en dit het daartoe gelei dat hy sakeman in hierdie geweste aanskou word.

Die dorp betreur die afsterwe van Jörn Goldenbogen. Hy het oor die jare vir homself ’n reputasie as kranige sakeman, restaurateur, hotelier en ywerige gholfspeler in Mbombela gevestig.
Hy laat ’n groot leemte in baie lewens na hy Sondagaand in Mediclinic Nelspruit oorlede is aan Covid-19 komplikasies.
Jörn is op 12 Januarie 1947 in Hamburg, Duitsland, gebore en is 12 dae na sy 74ste verjaardag oorlede. Volgens sy lewenslange vriend, Edda Visagie, het Goldenbogen ’n kleurryke lewe gelei na sy aankoms in Suid-Afrika in 1966.
LEES OOK: Wees voorbereid wanneer swaar weer en vloede dreig
“Hy was altyd joviaal; hy het geweier dat enigiets negatief hom onder kry,” het sy tranerig gesê.
Sy lewensverhaal lees soos iets uit ’n avontuurroman. Jörn het vir die eerste keer voet aan die SuidAfrikaanse wal gesit na hy die lang reis per vragskip aangepak het.
“Hy het in 1965 as jong man ’n hotelierkursus in Duitsland voltooi by Vier Jahreszeiten, wat destyds as een van die 10 beste hotelle in die wêreld beskou is.
LEES OOK: AfriForum-buurtwagte verleen hulp tydens swaar reën
“Daarna het hy die reis na SuidAfrika aangepak op soek na werk. Dit het maar moeilik gegaan; hy kon as gekwalifiseerde hotelier nêrens werk kry nie,” het sy verder vertel.
Met sy hoed in sy hand het Jörn die Duitse ambassade in Kaapstad genader en is ’n treinkaartjie na Pretoria gegee. Daar aangekom, het hy ’n pos as kelner by die Duitse Klub bekleë voordat hy ’n laer pos by die befaamde Boulevard Hotel in die stad aanvaar het.
“Dit is ’n getuienis van sy sterk werketiek dat hy hier as skoonmaker begin het en homself later in ’n bestuurspos opgewerk het.”
LEES OOK: Dié knapie verskyn eersdaags op die kassie
By die Boulevard het hy ’n landgenoot genaamd Heinz raakgeloop en die twee het vaste vriende geword. Op Heinz se voorstel is hulle uiteindelik Laeveld toe en hier is Jörn as bestuurder van die wildtuin op Skukuza aangestel in 1970.
“Die geld wat hy hier verdien het, is natuurlik gespaar soos dit ’n Duitser betaam, en hy het homself later in Nelspruit gevestig waar hy die Why Not-restaurant gebou het.
“Dit was vinnig die beste toeristebestemming en was die eerste groot restaurant in die stad,” het sy bygevoeg.
LEES OOK: Vyfjarige seun toets positief vir Covid-19
Na jare se swoeg en sweet by die restaurant, met Heinz as sjef en Jörn as bestuurder, het hy besluit om ’n gastehuis oop te maak.
Met hierdie nuwe onderneming is hy ook as die voorstaande lid van die gastehuisbedryf in die dorp herken. Met behulp van sy vrou en twee seuns het die gastehuis ’n instelling geword waar die plaaslike sakelui skouers geskuur het.
Jörn is as ’t ware ’n pionier wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie en dit het daartoe gelei dat hy sakeman in hierdie geweste aanskou word.
Hy was ook by talle liefdadigheidsorganisasies betrokke en het as een van die lewenslange lede van die Nomads Gholfklub graag geld geskenk.
LEES OOK: KYK: Pastoor na 47 dae uit Mediclinic ontslaan
“Sy werkers wat al oor die 30 jaar vir hom werk, is verpletter toe hulle die tyding ontvang het dat hy nie meer met ons is nie.
“Hy sal onthou word as ’n liewe, spesiale mens wat ons in die Laeveld verloor het.”
Jörn se seun, Dayne, wat tans in Amerika werk, vertel dat sy pa se afsterwe hom sprakeloos laat.
LEES OOK: Vrou ontsnap inbrekers en ontbied nooddienste
“My vader se werketiek en sy werk vir die Nomadsgholfgemeenskappe is ’n herinnering wat ek altyd sal koester.
“Hy sou nog sy 100ste rondte vir die Nomads speel en was van die begin af by hulle. “Mense sal hom onthou vir sy ongekende sin vir humor.
“Van die restaurant tot by sy gastehuis was sy werketiek nie minder as voorbeeldig nie.”
LEES OOK: Uit die hart van ‘n goeie vriend
Volgens Dayne sal daar weens Covid-19-regulasies nie ’n gedenksdiens gehou word nie, maar sal sy pa se liggaam veras word.
