Local newsNews

Getroue Laevelder groet Nelspruit na 56 jaar

Hannie Roos née Basson het na 56 jaar die Laeveld vir die Weskaap verruil.

Sy het verlede week in Malmesbury gaan aftree.

Hannie het in 1965 na Mbombela verhuis om haar loopbaan as onderwyser te begin. Sy het van 1965 tot 2003 by Laerskool Nelspruit gewerk, en was vir 25 jaar aktief by die Vroue Landbou-unie en NG Kerk Nelspruit-Suid betrokke.

Sy het ook vir ‘n wyle saam met Amanda Botha op Radio Laeveld gedigte voorgelees.

“In die beginjare hier het ons elke persoon op die dorp geken. Saterdae was dit ‘n heerlike uitstappie om dorp toe te gaan en soveel bekendes te groet en koffie by die Koffiehuis te drink. Ek en my man, Hans, wat in 2007 oorlede is, het dit vreeslik geniet om hier te bly,” vertel Hannie.

Twee van haar dogters bly in Engeland, en haar ander een in Malmesbury. Sy het besluit om daar in ‘n rustige aftreeoord te gaan woon, om by haar familie te kan wees.

LEES OOK: Eisteddfod bied jou die kans om touwys te word by dié toneelkenners

Met die woorde het sy gegroet: “Nelspruit is ‘n fantastiese plek en dit sal altyd na aan my hart bly. Aan elkeen van my oud-leerders, kollegas, vriende en kennisse, wil ek baie dankie sê vir al julle liefde en vriendskap op die heerlike dorp.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button