Nog ‘n ou Lydenburg hotel: Die Austin Hotel
Van hospitaal na hotel en nou restaurantkompleks. Maar meer as 150 jaar gelede was die bekende Trout Inn in Potgieterstraat en die huisie langsaan 'n spilpunt waarom alle sosiale gebeure in die dorp gedraai het. Daar is tennis gespeel, met moderne Model T-Fords rondgery en met die beroemdes en adellikes onder kandelabers biljartaande gereël.

Van hospitaal na hotel en nou restaurantkompleks. Maar meer as 150 jaar gelede was die bekende Trout Inn in Potgieterstraat en die huisie langsaan ‘n spilpunt waarom alle sosiale gebeure in die dorp gedraai het. Daar is tennis gespeel, met moderne Model T-Fords rondgery en met die beroemdes en adellikes onder kandelabers biljartaande gereël.
Drie weke gelede het die koerant ‘n mooi artikel oor die ou hotelle in Lydenburg van toeka se dae geplaas. Na dié het die kunstenaar, boer en bekende historikus van Ouwerf, Pieter Krügel, ingeloer en meer inligting van die Austin-familie gedeel. Hy het ook ‘n paar jaar gelede ‘n kunstenaarsvoorstelling van die huis geskilder.
Lees ook: Die skaars posseëls van Lydenburg

Maria Magdalena Petronella Austin het sedert 1877 op Lydenburg gewoon voor sy in 1928 dood is. In 1874 het sy die Burgerkruis van pres. TF Burgers vir haar verpleging onder die delwers ontvang. Haar seun FH Austin was raadslid van 1918 tot 1931. Hier is sy in die rolstoel saam met familie en versorgers.As ‘n mens na die motors en modes op die foto’s kyk, is dit duidelik dat hulle een van die meer welaf gesinne op die dorp was. FH Austin was ‘n raadslid van 1918 tot 1931.
Die vertellinge kom van mondelinge bronne oor die jare en ook uit die Lydenburg Museum se argiewe.
Die Austin Hotel het vroeër (1874) as die Caledonian Hotel bekend gestaan. Die huisie was ook ‘n hotel in die Anglo-Boereoorlog. Die gesin moes ook selfs later hulle woonhuis langsaan, Mountain View, begin inspan as ‘n hotel.
Die foto van die Austin Hotel, c1910, kan egter nie versoen word met die gebou in Langestraat, ‘n entjie van Mountain View, nie. Die ingeslote kaart van Austin se erwe dui verder aan dat die Austin Hotel eerder in Potgieterstraat langs Mountain View was, as in Langestraat. Hoe dit ook al sy, die gebou bestaan duidelik nie meer nie. Daar is tans prokureurskantore in ‘n deel van die hotel. Sommiges meen dit was die huisie langs die Trout Inn-kompleks. Niemand kan verseker sê nie, aangesien dit ‘n paar jaar gelede afgebrand het en weer herbou is.

Die woonhuis van die Austins, Mountain View, se belangrikheid lê in die feit dat sy eienares, Maria Magdalena Petronella Austin (gebore Espach) een van die ontvangers van ‘n Burgerkruis was. Hierdie toekenning is deur pres. TF Burgers in 1874 aan haar gemaak vir haar verplegingsdienste in Pelgrimsrus. Sy en T McLachlan (gebore Shires) het dit ontvang vir hul werk met malariaversorging onder die delwers.
Maria Austin het sewe kinders gehad. Een van haar vyf dogters, Amy Lillian Marks, het die Burgerkruis van haar moeder geërf. Dié se seun het dit aan die TPA Museumdiens verkoop. Waar dit nou vandag is, is egter nie bekend nie.
Klaarblyklik het Maria Austin by haar dogter, Sarah Espach Austin, in Mountain View gewoon tot met haar dood in 1928.

Lees ook: Skool maak sy eeufeesplanne
