Twee beseer toe boom in die ry op hul motor val
'n Jong paartjie het Saterdagaand ternouernood aan die dood ontkom toe 'n verrotte papierbasdoringboom op hulle motor geval het.
Die ongeluk het omstreeks 21:00 naby die Glenwood-afdraai plaasgevind, toe ‘n verwoestende storm die gebied getref het.
Nazita Smith (19) en haar kêrel Corné Hugo (22) was vanaf Hugo se ouma op die Barberton-pad op pad terug huis toe, toe die boom deur die sterk wind omgewaai is.
Die boom het die hele voorkant van die Opel Corsa verfrommel.

“Dit is net die Heer se genade dat hulle lewend uit die wrak van die motor gekom het,” sê Alwyn Smith, Nazita se pa.
Beide die beseerdes is aanvanklik na die Rob Ferreira Hospitaal vir die behandeling van erge snye aan Smith se voorkop geneem, diep snywonde aan Hugo se arms en ‘n breuk aan sy regterarm.
Alwyn sê hulle was geskok toe hulle by die hospitaal aankom en sien hoe sy dogter se wond lyk, en vertel dat dit “soos ‘n opgestopte wors gelyk het nadat daar nege steke ingesit is”.

Ontstoke het Corné sr. beide die beseerdes opgelaai en na Mediclinic Nelspruit geneem vir behandeling. Maar na die aanvanklike behandeling is daar bepaal dat Corné jr. ‘n noodoperasie moes ondergaan, en sonder ‘n mediese fonds, moes ‘n deposito van R30 000 eers betaal word voordat hy teater toe kon gaan.
LEES OOK: Bietjie fees, maar gróót gees
Dié bedrag is deur sy broers bymekaargeskraap en die desposito is betaal.

Hy het Maandag dié operasie ondergaan om sy gebreekte arm en die wonde te heg.
Nazita is intussen ontslaan en Maandagoggend het haar pa haar terug Rob Ferreira Hospitaal toe geneem waar hulle “die personeel kon oortuig” om ‘n skandering te doen om die erns van haar beserings te bepaal.
Die dokters het egter verdere behandeling geweier, omdat die Smiths glo Saterdag ‘n vorm onderteken het dat hulle behandeling weier.

“Ons was onder die indruk dat dit ‘n ontslagvorm was, nie ‘n weiering nie,” sê Alwyn.
Hulle het uiteindelik ‘n dokter by Kiaat Privaat Hopitaal opgespoor wat Nazita ondersoek het.
Behalwe vir die sny aan haar kop, het sy ook harsingskudding opgedoen.

“Ek het na die ongeluk besef hoe verantwoordelik die kinders eintlik was deur hulle veiligheidsgordels te dra. “Die gordels was beslis ook ‘n reddingsfaktor anders kon hulle baie erger hoofbeserings opgedoen het,” sê Alwyn.
“Ons (sy en Hugo jr.) sê dankie aan die Here dat Hy ons gespaar het,” het Nazita gesê.
Rob Ferreira Hospitaal het nie teen druktyd Laevelder se medianavrae beantwoord nie.


Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.
For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder
For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
