Gesoek: vrou vir Laeveldse hartebreker
Hy het as kind in die strate van die stad saam met sy maats kattekwaad aangevang. Vandag is hy in talle topproduksies op die verhoog, rolprentskerms en televisie te siene.
Francois Jacobs, oorspronklik van die Laeveld, sal boonop binnekort in die nuwe seisoen van Op my eish! op kykNET sy buiging maak.
Toe die vervaardigers van dié program ‘n nuwe vrygesel vir die tweede seisoen van die reeks gesoek het, was Francois ‘n uitstekende keuse. “Met ‘n ewige vonkel in die oog en daardie sexy sagte bry, maak hy menige vrou se knieë lam. Daarby saam is hy ‘n gentleman, aantreklik en energiek. Maar die groot liefde? Dié het hom nog altyd ontwyk,” het ‘n verklaring deur kykNET gelui.
Jacobs is bekend vir sy rolle in rolprente soos Vir die voëls en Kaalgat Karel, en het ook in TV-reekse soos Spoorloos 1, Binnelanders, Donkerland en Sterlopers gespeel.
“Ek is ongelooflik opgewonde om aan die program deel te neem. Ek sien baie uit daarna om nie net die liefde van my lewe te ontmoet nie, maar die 16 nuwe mense en dalk vriende vir die toekoms,” het hy aan Laevelder gesê.
LEES OOK: Bietjie fees, maar gróót gees
In die reeks gaan Jacobs 16 vroue uit al die inskrywings kies, hulle in Johannesburg ontmoet en met elkeen ‘n blitsafspraak hê. Hy gaan dan 12 kies en hulle in die volgende vier weke beter leer ken. Kykers kan avontuurlustige uitstappies en emosionele tonele verwag wanneer hy die vroue een vir een huis toe stuur.
Op die vraag of hy dalk senuweeagtig oor die program is, antwoord hy dat dit natuurlik is om ‘n bietjie te stres wanneer die wêreld ‘n vergrootglas oor jou liefdeslewe hou. “Daar is nie meer ‘n karakter of ‘n masker om agter weg te kruip nie. Dit is die egte ek, die regte Franna, so die wêreld gaan my persoonlik beter leer ken.”
Volgens Jacobs is hy op soek na ‘n vrou wat standvastig is en op haar eie voete kan staan. “Sy moet haar eie mens wees. Dit is iemand wat nie noodwendig net wil trou en kinders kry nie. Dit is iemand wat avontuurlustig, spontaan en mooi is. Iemand wat regtig kan liefhê en omgee. Sy moet ook beslis ‘n paspoort hê.”
LEES OOK: Plaaslike okkerneutbedryf is op volle vaart
Jacobs praat met trots oor sy herkoms uit die Laeveld. Hy is gebore in Rob Ferreira Hospitaal en is ‘n oudleerling van Laerskool Laeveld en Hoërskool Nelspruit, waar hy in Huis Hermann Davin gewoon het.
“Ek is in Nelsparta gebore en getoë,” het hy grappenderwys gesê. “Die Laeveld sal altyd my tuiste wees. Ek het daar lewenslange vriende gemaak en al my herinneringe as kind is daar. Dis ‘n pragtige plek waar ek grootgeword het. Ek sal in die toekoms daaraan dink om terug te trek indien ek kinders van my eie het.”
Besoek www.kyknet.co.za vir meer inligting oor die program.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.
For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder
For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
