Kyk, luister en doen al hierdie dinge by Bietjie-bietjie-Bos
Bietjie-bietjie-Bos skop Desember af met hope interessante en leersame doendinge op die leefstylprogram, en boonop sal feesgangers steeds die naweekfeesdae kan afsluit met 'n musiekkonsert uit die boonste rakke op die feesterrein.
Bederf jou geliefdes dié Kersfees met geskenke wat jy self maak tydens Bietjie-bietjie-Bos by Nitali Re-invented Decor in Silvastraat, Mbombela. Indien jy tien duime het, kan jy sommer van die uitgesoekte produkte koop wat van 09:00 tot 19:00 van 1 tot 4 Desember by dié Kersmark beskikbaar sal wees.
Toegang is gratis. Indien jy ‘n stalletjie wil bespreek, bel Annelie by 082 958 3614, of hoor watter klasse word aangebied by Lynette by 084 527 9763.

Die bekende sanger, fotograaf en storieverteller, Willem Botha, is buiten al dié talente ook vaardig met die grimeerkwas. Skryf in vir ‘n MUD-meesterklas by hom, en leer hoe om soos ‘n ster te lyk sonder hope grimering. Dit beloof om ‘n vermaaklike oggend te wees op Woensdag, 1 Desember, om 10:00 by Doppio Zero.
LEES OOK: Bietjie fees, maar gróót gees
Sleep ‘n vriendin saam, want ingesluit by die prys van R250 is ‘n welkomsdrankie, koek en cappuccino. Elke deelnemer kry ook ‘n MUD-geskenkbewys en twee gelukkiges staan die kans om ‘n gratis les te wen.
Nog altyd gewonder hoe proe walkie-talkies, oftewel hoenderkop en -pote, maar nog nie die moed kon bymekaarskraap om dit self voor te berei nie? Dan is die Ultimate Kasi Experience by Urban House in Sonpark die plek om op Sondag 5 Desember te wees. Lekker township-disse, tesame met heeldagvermaak tot 19:00 vir die langasems.
Kaartjies kos R300 elk. Bespreek regstreeks by Urban House by 064 980 7284.
LEES OOK: Só lyk die program vir Bietjie-Bietjie-Bos
Goeie wyn maak menige dinge beter, maar saam met harpmusiek proe dit op sy beste. Wyn en Snaar bied op Vrydag, 3 Desember, om 18:00 2 Girls, 2 Harps and a Piano aan saam met Theresa Prinsloo en Karla Brits, terwyl daar aan verskeie wynlandgoedere se topwyne geproe word. Die venue is Zebrina-gastehuis met sy daktuin, bruggies en waterfokuspunte waar dit voel of jy kompleet “innibos” is.
Die kaartjies kos R200 elk en sluit watertand tapas en ‘n oestafel in, en wanneer die son agter die Laeveldse granietkoppies sak, is daar koffie en ‘n soetigheid om die klankryke ervaring af te rond.
Bespreek by Computicket.
Die volledige program is by innibos.co.za.
Teken ook in op die Innibos-nuusbrief, Tjirp, op die webtuiste om seker te maak jy kry die jongste feesnuus.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.
For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder
For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
