Van Botswana tot Lydenburg geroep
Ds. Adriaan Botha en sy gesin het reeds in Mei vanaf Botswana na die dorp toe verhuis.
Hy is die nuwe leraar van die Afrikaanse Protestantse (AP) Kerk. Soos die jaar verbygevlieg het, het hy nou eers stilgestaan om met Steelburger/ Lydenburg Nuus oor sy roeping te gesels en wat die evangelie vir hom en sy gesin beteken.
Hy het sy teologiese opleiding by die Afrikaanse Protestantse Akademie ontvang en is op 28 Januarie 2018 gelegitimeer.
Botha se eerste beroep het vanaf die Afrikaanse Protestantse Kerk Dendron gekom, met die opdrag: die bediening en kerkplanting onder die Afrikaner in Botswana in samewerking met die Independent Church of Francistown.
Lees ook: Singende Jan se nuwe Kersalbum bekoor
“Hierdie eerste beroep het baie uitdagings gehad. Die enigste aktiewe Afrikaanse kerke wat ons kon opspoor, was in Gaborone/ Lobatse, Maun, Ghanzi, Francistown en Kasane. Baie van hierdie kerke het nie altyd permanente bediening nie. Die gevolg is dat baie Afrikaners in Botswana gaan woon, maar in die bos in verdwyn en nie kerk toe gaan nie. Die Afrikaner in Botswana het grootliks verheidens. Ek het met een jongman in die ‘senior verbondsonderrigkas’ oor Jesus gesels. Hy het al van Jesus gehoor. Hy het egter nie geweet dat Jesus die Seun van God is nie. Die seun het toe gevra of Jesus soos Thor of Superman kragte gehad het en of Jesus kon vlieg. Die seun was nie besig om snaaks te wees nie. Thor en Superman was sy enigste verwysingsraamwerk. Ek het die seun gevra of hy weet dat Jesus vir sy sondes gesterf het. Die seun se antwoord was nee,” het Botha oor sy eerste wedervaringe in Botswana vertel.
Dit het vinnig duidelik geword dat die bediening in Botswana eintlik sending is. Die sendingveld was nie iewers doer ver in die bos nie. Dit was in Francistown self.
Lees ook: Geskiedenis is die fondamente waarop dorp gebou is
“Dit is hier waar ek die krag van die suiwer verkondigde evangelie gesien het. Ek dink aan die woorde: ‘Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ’n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart,’ (Heb. 4:12). Die Here het die werk in Botswana geseën. Die totale lidmate was in April 2018 slegs 25. Die totale lidmate was in Januarie 2021 toe ’n pragtige groep van 97 lidmate,” het Botha geseê.
“Ek en my vrou, Qwendelene, wou graag in Botswana bly, maar die Here wou gehad het ons moet Lydenburg toe kom. Ons wil die suiwer evangelie verkondig. Ons wil die gemeente laat groei en veral jongmense meer betrokke kry. Ons weet ook dat mense seer het, en met sonde worstel. Ons weet dat baie mense skrikkerig vir die kerk is. Maar ons wil ’n veilige tuiste wees. Ons wil mense help om vir Christus te ontmoet. Ons wil hê dat mense se sondelas, wat soos ’n sak klippe op die skouers weeg, by die kruis van Christus sal afval en in die leë graf sal inrol. Ons wil hê dat mense se seer genees word. Ons wil mense met die vrede en rus in Christus bedien. As u dalk na hierdie dinge smag, kom kuier … en nog beter, word deel van ons gesin,” het Botha gesê.
* Die AP Kerk Lydenburg se dienste vind op Sondae om 09:30 by die kerk in Buitestraat 12 plaas. Indien daar enige navrae is, skakel die kerkkantoor by 082 888 9579.
