Grafte oop, grafstene geskend, as skoonveld
Die skokkende toneel van 'n graf wat oopgegrawe is en gesteelde as, het die Waterson-gesin op Maandag 10 Januarie begroet.
Martin Waterson se oupagrootjie, George Waterson, se graf in die dorp se ou begraafplaas, is oopgegrawe.
Sy tante, Maureen Waterson, se as wat op die graf langsaan vasgemessel was, is ook gesteel. Maureen Waterson is in 2019 oorlede en die familie het die as in dieselfde jaar bo-op sy oumagrootjie, Elizabeth Bertha Waterson, se graf vasgemessel.
Lees ook: Rusoord sluit jaar met geliefdes af
“Ons was net voor Kersfees by die grafte. Maandag het my oom, David Mabuza, my gebel en gesê my oupagrootjie se graf is oopgegrawe. Hy is van Burgersfort en wou die familiegrafte besoek,” het Martin gesê.

“Die toestand van die begraafplaas is skokkend. Die grafstene is gebreek, die gras is skouerhoogte en mens kan skaars met ‘n motor daar ry. Maar dis die laaste ding wat ons verwag het. Ek het eers gedink my oom maak ‘n grap. Maar toe ons Maandagmiddag gaan kyk het, was dit duidelik daar is baie skade,” het hy gesê.
Martin wou onmiddellik ‘n saak van grafskending by die Lydenburg SAPD open, maar hulle het hom na die Thaba Chweu Plaaslike Owerheid verwys. Themba Sibiya, die woordvoerder, het teen ter perse
gaan nog nie aan die koerant se navrae reageer nie.
“Ek gaan eerder self vandag weer die graf toemaak. Dit kan nie so oopstaan nie. Ons as familie het al baie jongmense in die begraafplaas gesien wat ons vermoed dwelms gebruik. Maar ons het nie verwag hulle sal ook die grafte oopgrawe nie.

Martin het gesê die toestand van die begraafplaas is vir die wye gemeenskap ‘n kopseer. Klagtes oor rou riool wat daardeur loop en die gronde wat nie in stand gehou word nie, is legio.
Die begraafplaas is ook van historiese waarde, aangesien die stigters van die dorp, Johannes Coetser, en van die pioniers sedert Lydenburg se stigting daar begrawe is.
Grafstene soos dié van meester Willem Poen, die eerste onderwyser van Lydenburg, en Britse soldate wat in die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902) gesneuwel het, is ook daar te sien.

