Local news

OPVOLG: Kerswonder vir jong skietslagoffer van Witrivier

Die Slabbert-gesin is innig dankbaar dat hulle jongste seun redelik goed herstel het na hy verlede week deur die kop geskiet is. Hy is al klaar by sy bewussyn en op sy voete, en is van die intensiewesorgeenheid na ’n gewone saal oorgeplaas.

Dit was ’n Kersvakansie waarna die Slabbert-gesin van Witrivier so lank uitgesien het.

Maar binne ’n japtrap het dit in ’n nagmerrie ontaard toe hulle jongste seun,  Johann (9), met ’n 9mm-pistool deur die kop geskiet is.

“Dit was ’n erg traumatiese voorval, en ons hele gesin, ma Alecia, Johann se twee broers, Ludwig (14), Henrico (13) en ekself is nog verward en in skok,” vertel pa Gottfried vanoggend (Donderdag 28 Desember) eksklusief aan Laevelder.

Lees ook: White River boy shot in house robbery

“Maar net so ’n dramatiese belewenis as wat dit is, het ons by God die grootste Kersgeskenk ooit gekry – dat ons seuntjie lewe!”

Johann is verlede Woensdag deur die kop geskiet, vermoedelik deur ’n rower wat die seuns in hulle Essenhoutstraat-huis in Kingsview aangeval het.

Lees ook: OPVOLG: Witrivier-seun in intensief ná skietvoorval

Wonder bo wonder het hy dit oorleef, veral as daar in ag geneem word dat ’n 9mm-koeëlpunt die skedel aan die voorkant deurboor het en agter uit is, sonder dat die brein geraak is.

Johann het so vinnig herstel dat hy vandag uit die intensiewesorgeenheid na ’n gewone saal oorgeplaas is.

Lees ook: Skok en ongeloof in Mbombela en Hoedspruit ná dubbelmoord op Kersdag

“Hy praat met ons en loop self rond,” vertel Alecia.

Intussen is ’n hulpfonds vir die gesin gestig, waar geld ingesamel word vir onder meer traumabehandeling en toekomstige mediese koste.

“Ons is dankbaar vir die mense wat ons ondersteun en ons in hulle gebede opdra. En dan natuurlik ook aan die mense wat reeds geld in die fonds geskenk het.”

Van tot sover as Kanada is skenkings ontvang, sê Bruce Macauley, die dryfveer agter die fonds.

Gottfried sê hoewel Johann se twee broers nog getraumatiseerd is, gaan dit buitengewoon goed met hulle.

“Wat ons wel geweldig omkrap en ontstel is die voortsloerende en ongevraagde skinderstories wat die rondes doen. Laat die polisie hulle werk doen en die waarheid sal uitkom.”

Brig. Selvy Mohlala, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, sê nog niemand is in verband met die skietvoorval in hegtenis geneem nie.

Geld kan in die trustfonds van Döman Weitsz Prokureurs, Standard Bank, rekeningnommer 030354838, inbetaal word. Gebruik ‘Johann Slabbert’ as verwysing.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.
Back to top button