Local news

Marlothpark se vlakvarke word nou met hamers aangeval

Dié vakansiedorp se vlakvarke word na bewering met kos gelok en dan met ’n hamer geslaan. Sommige vlakvarke doen ernstige beserings op, en ander vrek. Hierdie is 'n nuwe, kommerwekkende tendens.

Vlakvarke in dié wildtuindorpie staar nou ‘n nuwe grusame dood in die oë.

Stropers lok die diere, wat meestal hondmak is, met kos nader en hulle word dan met ‘n hamer doodgeslaan.

“Ons het Vrydagaand [5 April] buite ons huis in Berghaanstraat gesit toe ‘n groot vlakvark sku-sku nadergekom het. Dit is toe dat ons ‘n groot smetterige wond op die dier se voorkop opgemerk het,” vertel Nicolene Rautenbach.

Volgens haar was dit ooglopend dat die dier nie in ‘n geveg met ‘n ander dier of selfs ‘n vlakvark beseer is nie.

“Daar was ‘n diep ronde wond, en ek dink die beer moes in geweldige pyn gewees het.”

Sy het onmiddellik die veldwagters ontbied, maar teen die tyd wat hulle opgedaag het, het die vark die bosse in verdwyn.

Rautenbach-hulle het die beseerde dier weer ‘n paar keer naby hulle huis gesien, maar telkens was dit al weg wanneer die veldwagters opgedaag het.

Lees ook: Marlothpark moet moontlik dierebevolking uitdun om ekologiese ramp vry te spring

Sy vermoed die vlakvarke word deur leeglêers of boukontrakteurs wat daagliks op Marlothpark doening is, met hamers aangeval.

Gerrie Camacho, ‘n inwoner en self ‘n veldwagter, stem saam.

“Ek het al male sonder tal gesien hoe boukontrakteurs varke van hulle pap en ander oorskietkos voer. So lok hulle die dier tot binne trefafstand. Ek vermoed dit is dan in dié proses dat hulle na die vark se kop met ‘n hamer of self die skerppuntige sweishamer kap.”

Lees ook: VIDEO: Krokodille verorber bok in Krokodilrivier by Marlothpark

Die vark spring gewoonlik te vinnig agteruit, en dan doen hulle ernstige gesigswonde op, sê Camacho.

Deidré Joubert van die Wild and Free Wildlife Rehabilitation, wat self op Marloth woon, sê hulle het al verskeie keer vlakvarke met erge kopwonde ingeneem.

“In Desember het ons een ingekry met ‘n groot deel van sy skedel weggekap. Ons moes hom van kant maak.”

 
Back to top button