Local news

EKSKLUSIEF | ‘Verwese, verward, verhongerd en bitter uitgeput’ – Gielie praat oor angsvolle verdwyning

Machiel 'Gielie' du Toit is onlangs met sy gesin herenig ná sy skielike verdwyning.

Verward, bedremmeld, verwese en oortrek met bosluise.

Dit is hoe Machiel ‘Gielie’ du Toit voorverlede week naby die Swadini-oord in die Blyderivierspoort-berge opgespoor is.

Du Toit was sedert Maandag, 6 Januarie, soek toe hy spoorloos verdwyn het. Die lede van ‘n soekspan wat gehelp het om hom te probeer vind, het op sy verlate Mahindra-bakkie sowat 500 m van die oord af afgekom, met sy sleutels en skootrekenaar nog daarin.

LEES OOK: Raaiselagtige verdwyning van Sinoville-man laat soekers kopkrap

“Hoe, waar en wat met my gebeur het is steeds so duister soos die nag,” vertel Du Toit dié week in ‘n ekslusiewe onderhoud met Laevelder.

“Die laaste wat ek kan onthou is dat ek my medikasie gedrink het, ‘n broodjie geëet en vir my vrou, Jacquie, nag gesê het. Toe ek bykom was dit stiknag- donker in ruie bosse, en ek het teen ‘n boom gesit. Ek het nie ‘n idee gehad waar ek is of hoe ek daar gekom het nie.”

Du Toit sê daar was heelwat naggeluide wat hy in die ruigtes gehoor het, maar dat hy nie geweet het wat dit was nie. Hy onthou dat hy om hulp geroep het, maar daar was geen antwoord.

“Ek was skytbang en het net daar teen die boom bly sit totdat dit lig geword het.”

LEES OOK: Raaiselagtige verdwyning van Sinoville-man laat soekers kopkrap

Hy was totaal gedisoriënteerd en het begin stap met die hoop om iewers uit te kom.

“Ek het telkens by dieselfde punt uitgekom en besef ek loop in sirkels.”

Om sake te vererger het hy nie geweet watter dag of datum dit was nie. Hy het dié nag vir hom ‘n skuiling onder ‘n omgevalde boom probeer maak sodat hy die reën kon afweer.

“Dit het nie gehelp nie. In daardie stadium het daar soveel dinge deur my kop gedraai. Hoe het ek hier gekom?”

Intussen het Gideon Engelbrecht, sy neef en ook sy werkgewer, en hordes vrywilligers ‘n soektog van stapel gestuur.

“Die eerste ding wat deur ons koppe gegaan het is dat Gielie ‘n slagoffer van die bou-Mafia was. Ons het al menige dreigement op ons projek by die Acornhoek Mall gekry.”

Intussen het die soekspan vasgestel dat Du Toit boustewels aangehad het. Daar is inderhaas probeer vasstel hoe die stewels se sole lyk.

Die Donderdag, 9 Januarie, het ‘n eerste greintjie van hoop opgevlam toe ‘n vae spoor, half deur die reën vernietig, opgespoor is.

Dit was dieselfde stewelspoorpatroon. Om 16:00 is daar ‘n duidelike vars stewelspoor in die sagte sand enkele meters van die Blyderivier gevind.

“Die soektog is toe in die omgewing toegespits,” sê Engelbrecht.

Du Toit, wat steeds nie geweet het watter dag dit was nie, het toe die Blyderivier-berg herken. “Ek het toe ten minste soort van ‘n rigting gehad.”

LEES OOK: Machiel du Toit found alive and disorientated on Swadini road

Die Vrydag is die soektog voortgesit.

Daar is later besluit om in die nag met ‘n hommeltuig met ‘n infrarooikamera te soek. Dié soektog is egter afgelas omdat dit erg begin reën het. Die span was op pad Kampersrus toe toe hulle iemand langs die pad sien stap. ‘n Ritkamera op die bakkie se paneelbord het gewys hoe hulle by ‘n man verbyry.

Hulle het omgedraai net om te ontdek dat dit Du Toit was. Hy was verwese, verward, verhongerd en bitter uitgeput, sê Engelbrecht.

“Die eerste ding wat ek gevra het was ‘n foon om my vrou te bel. ‘Bokkie, dis ek,'” het hy gesê.

Hy is Saterdag terug huis toe in Sinoville waar hy met sy gesin, Jacquie, Larissa (13), Duan (5) en Chanté (2), herenig is.

KYK NA DIE VIDEO HIER:

“Ek het ‘n hele reeks toetse ondergaan om vas te stel wat gebeur het. Maar alles was normaal. Ons vermoed die medikasie wat ek drink, slaap-, stres- en bloeddrukpille, het moontlik ‘n chemiese wanbalans veroorsaak wat my brein verwoes het. Dit was net die Here se genade dat ek met my gesin kon herenig.”

Machiel ‘Gielie’ du Toit kort nadat hy met sy gesin herenig is. Hier is hy en sy vrou, Jacquie. > Foto: Verskaf

Du Toit gaan Dinsdag 28 Januarie ‘n neuroloog besoek sodat hy ‘n breinskandering kan ondergaan.

Hy was Maandag terug op sy pos op Kampersrus om met sy werk voort te gaan.

“Ek hoop iets wat ek daar sien of beleef sal my brein trigger. I’m now on a walk back into the past to track down the future,” sê hy.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button